Local news

Veterane eersdaags byeen

Die militêre veterane in die Waterberg-streek kom eersdaags by die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle byeen.

Die Suid-Afrikaanse Weermagveterane (SAWV), wat in 2019 gestig is, se byeenkoms vind op Vrydag 7 Junie plaas.

Volgens Bossie Boshoff glo die eenheid dat militêre veterane erken moet word vir die bydrae wat hulle in die ontwikkeling van Suid-Afrika gelewer het.

“Hierdie is manne en vroue wat opgeoffer het, gedien het en die prys betaal het sodat ons vandag vrede kan hê. Hulle verdien om erken, onthou en om versorg te word. Dit is die rede hoekom die eenheid gestig is.”

Die organisasie gee lede die geleentheid om êrens te behoort, deel te neem aan verskeie projekte en versorg te word en verseker dat hulle insprake op die hoogste vlak het. Die SAW skep ’n ondersteuningsnetwerk wat lede op verskeie maniere bystaan en om gemeenskappe te versterk.

“Ons is gefokus op die toekoms. Die areas waarop ons fokus is ondersteuning, erkenning, herdenking en nasiebou,” het Boshoff gesê.

Die SAWV het tientalle projekte om hul lede te ondersteun. Dit sluit onder andere in ’n welsynsprojek, mediese versekering vir veterane en hul afhanklikes, traumahantering, ondersteuning aan weduwees, geestelike projekte deur kapelane en sosiale byeenkomste waar oud-soldate kan saamkuier. Hulle het ook byeenkomste waar oud-soldate saam met hul gesinne kuier om die trauma van die verlede te verwerk. Daar is ook projekte om die hulpfonds aan te vul asook die invoer van koffie wat beskikbaar gestel word aan lede om te verkoop vir ’n inkomste.

Diegene wat die byeenkoms wil bywoon, kan vooraf bespreek by Boshoff by tel. 082 884 2630.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button