Local newsNews

Kiesers trek fluks hul kruisies

Die langverwagte nasionale verkiesing, waaroor daar baie bespiegel is, het aangebreek!

Sowat 26 miljoen geregistreerde kiesers het op Woensdag, 29 Mei, kans gekry om hul kruisie te gaan trek in Suid-Afrika se sewende nasionale verkiesing sedert 1994.

Van die nagenoeg 23 000 stempunte regoor Suid-Afrika is 34 in die Bela-Bela-munisipale area.

Teen sonop was kiesers in Bela-Bela reeds in rye waar hulle gewag het vir die stempunte om oop te maak. Hoewel enkele haakplekke voorgekom het, soos by Peet-se-Padstal waar verkeerde stembriewe afgelaai is, en kiesers moes wag vir die korrekte stembriewe en by die Sondela-stempunt waar die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK-beamptes, verdwaal het en teen 07:00 nog nie op hul pos was om die stempunt te open nie, het sake glad verloop.

Die burgemeester van Bela-Bela, Gloria Seleka saam met Pinky Sharon Kekana (adjunk-minister in die Presidensie) by die NG Moedergemeente-stempunt.
Regs: Maria Phathla saam met ’n fotobeeld van President Cyril
Ramaphosa.

Die Pos het met die burgemeester, Gloria Seleka by die NG Moedergemeente in Bela-Bela gesels waar sy haar kruisie kom trek het. Sy het gesê sy is nie bewus van enige ernstige probleme in ons area nie en het bygevoeg omdat ons demokrasie gegroei het, dink sy ons het baie goed gedoen as politieke partye, en dat die beste party sal wen.

Dr. Gerhard Grobler het ondanks die feit dat hy op krukke is, sy stem uitgebring.

Die burgemeester was vergesel deur adjunk-minister in die Presidensie, Pinky Sharon Kekana, wat vroeër by Laerskool Warmbad gestem het.

By Laerskool Warmbad het ’n rustige atmosfeer deurgaans geheers. Die Pos het met ’n span internasionale moniteerders gepraat. Hulle het ná hul inspeksie gesê dat hulle beïndruk is met dìé stempunt en beklemtoon hoe goed georganiseerd dit is. Hulle het wel genoem dat die masjien wat die ID-dokumente van kiesers moet skandeer om hul identiteite te bevestig, buite werking is by die punt, maar dat personeel van harde kopieë af werk, en dat alles vlot verloop.

’n internasionale moniteringspan besoek die stempunt by Laerskool Warmbad.

’n Inwoner, Quenten du Preez, het ná hy sy kruisie getrek het, aan Die Pos gesê:

“Die OVK-personeel verduidelik alles deeglik. Die hele proses mag dalk langer vat, juis omdat hulle soveel tyd spandeer om seker te maak elke kieser weet hoe werk die onderskeie stembriewe.”

Een van die eerste kiesers by die NG Moedergemeente, Johan Muller, het kiesers gemaan:

“Alles gaan goed, maar ’n persoon met verswakte oë, moet maar liefs ’n bril saamneem. ’n Mens moet mooi kyk vir die regte blokkie in daardie lang lys name.”

Lynette Geldenhuys het by die publieke werke saal in Van der Merwestraat gestem. Sy was vol lof vir die OVK-personeel, “Hulle was professioneel en behulpsaam. Ek is beïndruk,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button