Editor's choiceLocal newsNews

Vrou ontglip dood ná fratsongeluk

“Dit is ’n wonderwerk dat sy lewe. My kind gaan ’n lopende getuienis van genade wees!” het André Joubert van Mookgophong gesê nadat sy dogter, Chané Dreyer, op Donderdag, 16 Mei in ’n fratsongeluk met ’n trekker in Mississippi, Amerika was.

Chané en haar man,Willem was besig op die lande toe die ongeluk gebeur het. Sy het veelvuldige breuke aan haar skedel opgedoen en ’n operasie sal na raming sowat tien ure lank duur.

“Die besonderhede oor wat presies gebeur het, is nog vaag, maar die trekker se wiel het oor haar gery,” het Joubert vertel.


Advertensie

Spesialiste het Dinsdag, 22 Mei, weer x-strale geneem en besluit om op Woensdag, 29 Mei te opereer.

“Haar neus moet opgebou word en plate sal op verskeie plekke in haar gesig ingesit word. Sy sal na die operasie ’n tyd lank in die hospitaal moet bly.”

Chane (25) en Willem (28), wat skoolliefdes is, is sedert hul dae as leerders by Hoërskool Hans Strijdom, onafskeidbaar. Willem werk reeds ses jaar in Amerika en Chané vyf jaar. Hulle was glo besig om lande vir rys te ploeg toe die ongeluk gebeur het.

Corlet Briel, Willem se tannie, vertel die lande waarin hulle werk is papnat aangesien dit onlangs baie gereën het.

Chané en Willem Dreyer.

“Die trekkers se wiele pak aan met modder en Chané het vermoedelik afgeklim om die bande skoon te krap toe die ongeluk gebeur het.”

Willem en Chané woon by hulle in Mookgophong wanneer hulle in Suid-Afrika is.

“Willem het besef dat Chané tussen die trekker en die planter is en het nader gehardloop om te keer dat sy onder die planter beland,” het Briel gesê. “Die eienaars van die grond is dokters en was binne enkele minute op die toneel toe Willem hulp ontbied het. ’n Helikopter was baie vinnig daar om haar hospitaal toe te neem.”

Volgens Briel is dit vermoedelik juis die nat grond wat Chané gered het omdat die trekker se wiel haar kop in die modder ingestoot het.

Chané is opgeneem in die Jackson University Hospital. Haar skedel het blykbaar ’n krakie tussen haar oë, en haar wangbene, neus en sinusholtes is gebreek.

“Haar brein is 100% met geen teken van bloeding of vog nie. Haar kakebeen en tande is ook nie gebreek nie,” het Briel gesê.

Sy is op Vrydag, 17 Mei ontslaan, maar nou wag die operasie. “Dit is ’n baie groot prosedure wat vir haar voorlê. Sy sal na die operasie ’n tyd lank in die hospitaal moet bly, het haar pa vertel.

Joubert sê sy visum is Maandag goedgekeur.

“Ek wil haar graag bystaan na die operasie, Ons is ontsettend dankbaar vir ons vriende en die inwoners van die dorp vir al hul hulp en gebede. Ons het nog nooit so iets ervaar nie. Suid-Afrikaners wat in Amerika woon, het ons ook gekontak om te hoor hoe hulle ons kan help,” het Joubert gesê.

Hy het bygevoeg dat hy dankbaar is dat sy in Amerika was toe die ongeluk gebeur het omdat sy daar uitsonderlike mediese hulp ontvang.

Related Articles

Back to top button