CrimeLocal newsNews

Verdagtes eersdaags in hof, plaasaanvalle onder loep

"Bykans een plaasmoord per week in 2023, terwyl die regering anderpad kyk in verkiesingstyd."

Vier vermeende plaasaanvallers verskyn eersdaags in die hooggeregshof in Polokwane nadat die 35-jarige Nicky Janse van Rensburg van Roedtan in 2022 noodlottig tydens ’n rooftog geskiet is.

Daar is nie borgtog toegestaan aan die verdagtes na die laaste verdagte se hofverskyning op Vrydag, 17 Mei nie.

Nicky Janse van Rensburg.

Vier mans staan tereg op klagtes van moord ná Janse van Rensburg Vrydagmiddag, 7 Oktober 2022 op die plaas Derdekraal in die Roedtan-omgewing aangeval is. Die rowers het ’n tienerseun wat ook op die plaas gewoon het aangehou terwyl hulle Janse van Rensburg en sy vriendin, Veronica Grobler, ingewag het. Janse van Rensburg is tydens ’n struweling geskiet.

Albert Mangena, Malesela Mangena, Lesiba Solly Segwale en Morwantsiri Justice Mashiane se verhoor vind van 27 Mei tot 7 Junie in die hooggeregshof in Polokwane plaas.

LEES OOK: Hofsaak van bekende Roedtan-boer se vermeende moordenaars uitgestel

Spesialis-optrede

Die burgerregte organisasie, AfriForum, het die afgelope week gesê dat daar bykans een plaasmoord elke week was in 2023. Die totale aantal plaasaanvalle vir die tydperk is 296.

“Dít terwyl die Suid-Afrikaanse regering anderpad kyk en aan die vooraand van die nasionale verkiesing besluit het om nie die jongste misdaadstatistiek bekend te stel nie. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se misdaadstatistiek vir die vierde kwartaal van 2023/2024 moes verlede week bekendgestel geword het, maar dit blyk dat die ANC-regering nie so kort voor die verkiesing kans sien om die ware feite wat uit die statistiek na vore kom, in die oë te kyk nie,” het hulle in ’n persverklaring gesê.

AfriForum se jongste jaarlikse verslag oor plaasaanvalle en -moorde is op Maandag 20 Mei in Centurion bekendgestel. Volgens hul verslae is daar 49 plaasmoorde verlede jaar gepleeg.

Die organisasie het die polisie daarvan beskuldig dat hulle nie die nodige aandag aan plaasmoorde gee wat nodig is nie.

AfriForum het gesê dat hulle die toekenning van hulpbronne aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vir ondersoeke na sekere ernstige en georganiseerde misdade, oftewel prioriteitsmisdade, volg. Transito-rooftogte, onwettige mynbou en polities gemotiveerde moorde is van die misdade waarvoor spesiale ministeriële taakspanne vir die voorkoming en ondersoekdoeleindes saamgestel is.

“’n Gespesialiseerde benadering tot unieke misdade moet verwelkom word,” het Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, gesê. Hulle het egter vrae oor waarom die regering weier om dieselfde benadering met plaasaanvalle en -moorde te volg. “In sekere gevalle is die voorkoms van plaasaanvalle en -moorde veel hoër, meer gewelddadig en vereis ’n veel meer gespesialiseerde benadering as sekere van die misdade wat wel geprioritiseer is,” het hy gesê.

Volgens hul statistieke is daar 40 mense dood in politieke sluipmoorde in 2022, 41 dood in moorde wat verband hou met onwettige mynbou-aktiwiteite in 2023 en 49 mense dood in plaasmoorde in 2023. Volgens hulle was daar 234 transito-rooftogte in 2023 en 296 plaasaanvalle in dieselfde jaar.

Volgens Broodryk het die transito-rower spesialis-reaksie van die regering tot gevolg gehad, maar plaasaanvalle word skynbaar geïgnoreer.

AfriForum sal intussen deur sy meer as 170 veiligheidstrukture en meer as 10 000 opgeleide vrywilligers landwyd die stryd vir veiligheid van die gemeenskap aktief voortsit. Hierdie strukture slaag telkens daarin om plaasaanvalle af te weer en misdadigers wat hul aan dié misdade skuldig maak, aan te keer. AfriForum sal voortgaan om sy veiligheidsnetwerk verder uit te brei, opleiding te bied en gemeenskapslede toe te rus met die nodige vaardighede om binne die raamwerk van die wet op te tree en misdaad hok te slaan.”

Related Articles

Back to top button