Editor's choiceLifestyleLocal newsNewsTravel

Vat die Pad: Groot katte hier tuis in natuur

Het jy al gevoel jy kan jouself knyp, omdat jy nie kan glo jy het deel aan ’n merkwaardige ondervinding nie? Dan is jy deel van Die Pos-span wat op Vrydag, 17 Mei so ’n wonderlike ervaring gehad het by die Cheetah Experience-bewaringsreservaat.

Cheetah Experience (ZA Cheetah Conservation), is ’n nie-winsgewende organisasie wat geleë is op die R101-pad, tussen Modimolle en Bela-Bela. Die reservaat is tans ’n tuiste vir 22 jagluiperds (cheetah), en ’n verskeidenheid ander roofdiere, wat onder andere insluit, leeus, rooikatte, hiënas, tierboskatte, ’n Bengaalse-tier, en selfs ’n paar Kanadese-wolwe.

Advertensie

Met ons aankoms is ons verwelkom deur Riana van Nieuwenhuizen. Die Cheetah Experience-projek is haar droom wat sy in 2020 verwesenlik het nadat sy reeds vir baie jare as vrywilliger by versorgingsentrums vir roofdiere gewerk het. Sy het haar Cheetah-projek begin met ’n enkele jagluiperd genaamd, Fiela. Sy het die jagluiperd met ’n ABSA-banklening gekoop.

Riana by die laaste rusplek van Fiela, haar heel eerste Cheetah waarmee sy die Cheetah Experience-projek begin het.

Vandaar het haar projek met roofdiere uitgebrei en sy het geweet sy sou binnekort moet skuif na groter fasiliteite sodat die diere se kampe groter en meer natuurlik kon wees.

Riana vertel sy het In Januarie 2020 die plaas van 270 hektaar in die Waterberg buite Bela-Bela gekoop, en haar hele opset, insluitende 35 diere, vanaf Bloemfontein na Bela-Bela verskuif.

Hierdie pragtige Cheetah is een van die talle groot katte wat gesien kan word.

Sy sê dat daar bitter min infrastruktuur op die plaas was, geen paaie was gemaak in die berg nie wat die bou van kampe en hokke vir die diere moeilik gemaak het. Daar was ook nie krag op dié deel van die plaas nie en hul moes self water aanlê om die diere daagliks van vars water te voorsien. Daar is kilometers se pype wat aangelê is in ’n rotsagtige terrein.

Sy en haar span het sowat 60 000km afgelê tussen Bloemfontein en die nuwe plaas voordat sy kon dink om die diere te skuif, wat ’n logistieke nagmerrie van sy eie was.

Foto’s bo en onder: Van leeus, luiperds, rooikatte, tierboskatte, ‘n Bengaalse tier, tot Kanadese wolwe kan gesien word.

Met die Covid-19-pandemie wat die wêreld bedreig het, kon sy nie anders as kop te laat sak en deur te druk nie. Hulle het sewe dae per week van vroeg tot na sononder gewerk.

In Maart 2021 na baie drama en trauma kon sy spreekwoordelik die deure oopgooi en besoekers verwelkom. Sy vertel aan Die Pos dat elke keer wanneer dinge begin duister lyk het, het sy hulp vanuit onverwagte oorde gekry. Sy het geweet dit is seën wat op haar lewenstaak rus.

Al die pad vanaf Switserland, Stefan en Helene Zumstein. In die middel is Riana van Nieuwenhuizen.

Vandag werk sy meestal met vrywilligers wat van wyd en syd oor die wêreld heen, na haar uitgereik het. Talle van die vrywilligers wil nie weer weggaan as hul werkspermit verstreke is nie. Stefan en Helen Zumstein van Switserland is ’n goeie voorbeeld hiervan, Stefan het eerste as vrywilliger kom werk nadat hy op die webwerf van haar projek gelees het.

Sien ook: https://www.citizen.co.za/die-pos/cheetah-experience/

Riana, die diere, en die Afrika Bosveld het hom so beïndruk dat hy sy seun gestuur het om ook as vrywilliger te kom werk. Nou is Stefan en sy vrou Helen terug vir nog ’n sarsie vrywillige diens.
Stefan se droom is om permanent in Afrika te kom woon en hy het aan Die Pos gesê:

“My heart is in Africa, but I am too young to retire. We will have to be patient until we can both retire and settle here.”

Nog ’n buitelandse besoeker wat as vrywillig by die projek betrokke geraak het, is Ute Vierling, ’n jong hoofuitvoerende-beampte van ’n onderhoudsmaatskappy vir spoorweë in Duitsland. Sy spandeer soveel tyd op Cheetah Experience dat sy al haar eie woning op die perseel laat bou het, sodat sy hier kan bly as sy in Suid-Afrika is. Ute tree ook op as toergids vir besoekers en as ‘voorman’ van die groep vrywilligers wat hier is.

Ute en Riana werk al vir sowat tien jaar saam en Riana sê onomwonde as dit nie vir Ute en haar familie se finansiële bydraes was tydens die Covid-19-pandemie, sou hulle nie met die projek kon aangaan nie. Sy is ook van onskatbare waarde met haar uitgebreide kennis van die spesiale diëte en versorging van die roofdiere.

Ven, ’n gevlekte hiëna in sy nuwe omgewing.

Cheetah Experiences is definitief ’n besoek werd vir inwoners en besoekers van die Waterberg. Doen die moeite en ry die klein entjie en gaan kyk wat gebeur hier in ons midde.

Die Cheetah Experience het ook 18 selfsorgeenhede vir gaste wat langer tyd wil spandeer en dalk ’n handjie wil bysit in die versorging van die groot katte.

Omdat Cheetah Experiences ’n nie-winsgewende organisasie is, is dit altyd ’n stryd om fondse te bekom. Vir ’n troeteldier-eienaar is die koste van veeartse al styf, maar as dit by roofdiere kom is dit astronomies.

’n Ander en verseker die grootste uitgawe op hul begroting is die aankoop van vars vleis om aan die vereistes van die diere se spesiale diëte te voldoen.

Van Nieuwenhuizen beklemtoon dat sy poog om slegs vars vleis aan die katte te gee. Sy is oop vir enige donasies en hulle kan self ry om karkasse, vleis, en selfs jagters afval soos die koppe, en pote te gaan afhaal by enige iemand wat bereid is om ’n skenking te maak.

Die Pos-span saam met Riana van Nieuwenhuizen en Ute Vierling.

Sy maan dat sy nie vleis wat enige vorm van medikasie bevat, vir die diere kan gee nie.

Vir donasies, kan Cheetah Experiences gekontak word by tel. 072 905 3457.

Gaan loer gerus op hul webwerf by https://www.cheetahexperience.com/ vir die wonderlike werk wat hier verrig word.

Die Pos-span daag ander sakeonderneming om hul personeel vir ’n uitstappie na Cheetah Experience te neem. Dit is beslis die moeite werd!

Related Articles

Back to top button