Local newsNews

Motor slaan om, man dood

"Stephan was ’n ‘soft soul’ en altyd gereed met ’n ondeunde sêding of grappie."

’n Jong man van Bela-Bela en oud-leerder van Hoërskool Hans Strijdom is Sondag, 19 Mei oorlede nadat hy klaarblyklik beheer oor die motor wat hy bestuur het, verloor het. Die ongeluk het in die Noodhulp-omgewing gebeur.

Stephan Komlosy (20) was alleen in die voertuig toe dit omgeslaan het. Hy is die seun van Cliff en Colette Komlosy en was van sy ouerhuis op pad dorp toe, toe die ongeluk gebeur het.

Komlosy was in Laerskool Warmbad en het aan die Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong gematrikuleer. Daarna het hy in Bela-Bela aangebly en was die afgelope twee jaar werksaam by Waterberg Wholesalers in die nywerheidsgebied.

Jaconel Komlosy, tante en woordvoerder van die familie, het aan Die Pos gesê die omstandighede van die ongeluk is nog ’n raaisel, maar volgens alle aanduidings het Stephan beheer oor die voertuig verloor op een van die Noodhulp- kleinhoewes se grondpaaie. Die ongeluk het sowat drie kilometer van sy ouerhuis gebeur.

Die voertuig het omgeslaan en hy is uit die motor geslinger. Die ongeluk is onmiddellik deur ’n buurman gerapporteer en JeeDee en Leandra Cloete het gesorg dat daar dadelik ’n ambulans ontbied is.

Komlosy word beskryf as ’n ‘soft soul’, wat baie geliefd was onder almal wat hom geken het. Hy was baie spitsvondig en altyd gereed met ’n ondeunde sêding of grappie.

Sy skoolmaats het op sosiale media hul skok uitgespreek en gesê dat hy ’n ware Hansie was en bereid was om die ekstra myl te loop vir ander mense. Inwoners van die dorp het ook in groot getalle hul meelewing en simpatie teenoor die familie uitgespreek.

Die familie is vol lof en dankbaarheid vir die noodpersoneel, die Cloetes en die inwoners wat so gou op die ongelukstoneel was om hulp te verleen. Hulle wil ook hul dank uitspreek teenoor lede van die buurtwag en die ontvangsdame en die knap dokter aan diens in die Bela-Bela- hospitaal. Hul sê dat die dokter meer as 30 minute gespook het om Stephan by te bring.

Die familie bedank ook die praktyk van drs. Emslie, de Jonge en Briel. Stephan se roudiens was Saterdag, 25 Mei om 11:00 vanuit Kruispad Gemeente by New Beginnings in die Noodhulp-omgewing.

Teen druktyd kon Die Pos nog geen bevestiging vanaf die SAPD kry ten opsigte van hul ondersoek rakende die ongeluk nie.

Related Articles

Back to top button