CrimeLocal newsNews

Oud-kolonel pen sy wedervaringe neer

"Baie mense was vir my kwaad oor die Boeremag-ondersoek en verhoor, maar ek is nie iemand wat wegkruip nie."

Hoewel kol. Tollie Vreugdenburg reeds in 2022 afgetree het, is daar nie tyd vir leeglê nie. Dié gewese hoof van die polisie se Moord-en Roof-tak op Modimolle woeker deesdae om die ondervinding en kennis wat hy deur die jare opgedoen het, in boeke en handleidings neer te pen.

Vir Vreugdenburg is dit terapeuties en deel van die helingsproses vir baie jare se trauma. Hy sal veral onthou word vir sy opspraakwekkende verbintenis met die Boeremag-verhoor wat binnekort in boek vorm beskikbaar sal wees.

Hy vertel baie mense was vir hom kwaad oor sy betrokkenheid by die Boeremag-ondersoek en verhoor, maar hy is nie iemand wat wegkruip nie en het besluit om in die gemeenskap te bly na sy aftrede, waarvan hy vir so groot deel van sy lewe reeds deel is.

Die boek, getiteld South Africa’s High Treason Club – The White Seperatist Boeremag Conspirators on Trial – geskryf deur joernalis, Karin Mitchell in samewerking met Vreugdenburg, is al in 2019 in die VSA uitgegee deur McFarland & Company, Inc. Publishers van Jefferson in Noord Carolina.

Die boek is onmiddellik deur Harvard-, Yale-, Princeton-, en Michigan Universiteite opgeneem in die VSA as voorgeskrewe werk vir hul politieke wetenskap fakulteite. Hierdie universiteite het dan ook vir vyf jaar alle verspreidingsregte op die boek besit.

Ongeveer ’n jaar gelede het die regte teruggekeer na die skrywer, en Mitchell en Vreugdenburg werk nou saam om ’n hersiene weergawe van die boek uit te gee. Die boek word al vir meer as ’n jaar lank herskryf en is reeds goedgekeur deur Penguin Uitgewers vir publikasie. Vreugdenburg hoop dat die boek teen Desember gereed sal wees vir die Suid-Afrikaanse mark.

Kolonel Vreugdenburg, of Tollie soos hy bekendstaan, was vir bykans 43 jaar in diens van die Suid-Afrikaanse Polisie. Vir tien van hierdie 43 jaar is sy tyd voltyds opgeneem deur die Boeremag-verhoor.

Vreugdenburg was vanaf 1995 die bevelvoerder van Modimolle se Moord en Roof-tak, tot en met die tak se ontbinding in 2001. Tydens sy tydperk as bevelvoerder van hierdie tak het hul aanspraak gemaak as die enigste polisie-tak van sy soort in die land met ‘n 100% oplossingsyfer met betrekking tot plaasmoorde. Hierdie prestasie sê Vreugdenburg is slegs te danke aan die wonderlike, professionele span waarmee hy saamgewerk het.

Vir Vreugdenburg is sy aftrede uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens definitief nie die einde van sy betrokkenheid by wetstoepassing nie. Hy fokus die afgelope 20 jaar, al sy studies op terrorisme en is tans die Teen-Terrorisme (Counter Terrorism) ekspert, met die fokus op Afrika, vir talle organisasies soos die Financial Action Task Force (FATF) van die Verenigde Nasies (UN), die Inter-regerings Organisasie BRICS, die Institute for Security Studies (ISS), die Southern African Development Community (SADC), en die East African Police Chiefs Association (EAPCO).

Hy konsulteer dan ook vir dié organisasies op ‘n gereelde basis, terwyl hy tussendeur help met die opleiding in teen-terrorisme van wetstoepassers in Oos-Afrika.
Vreugdenburg skryf ook opleidinghand-leidings in die verband en het al lesings gegee aan eenhede van die FBI, Scotland Yard se SO15-eenheid, asook ander internasionale polisie eenhede in Afrika en Europa.

Hy is tans ook besig om sy biografie te skryf, met die voorlopige titel van ‘Voetpad van ’n Speurder’, waarin Penguin Uitgewers ook al hul belangstelling uitgespreek het.
Vreugdenburg het ‘n passie om sy kennis te deel, en glo nie dat hy ooit werklik op pensioen sal wees nie.

Related Articles

Back to top button