Local news

Staan op ter wille van ons kinders

Dit vat ’n dorp om ’n kind groot te maak.

In dié sê-ding steek daar baie waarheid. Kinderbeskermingsweek vind van 29 Mei tot 5 Junie plaas en gemeenskappe word opnuut bewus gemaak dat daar na die welstand van hul kinders omgesien moet word. Emosioneel en fisiek gesonde kinders word gesonde grootmense wat sterker gemeenskappe bou.

Lize Fouché, ’n maatskaplike werker by die diensorganisasie RATA wat Modimolle se dorpsgedeelte bedien, sê dat ekonomiese druk ’n groot rol speel by huishoudings waar kinders verwaarloos word.

“Drank, dwelms, werkloosheid en mense wat nie vaardighede het om ’n inkomste te verdien nie, dra by tot kinders wat verwaarloos word.”

Sy sê egter dat nie net kinders in arm huishoudings verwaarloos word nie, maar ook in gegoede huise.

Dit is belangrik dat ouers hul verantwoordelikhede teenoor hul kinders nakom.

“Gedurende die week wil ons mense bewus maak van wat kinders se regte is. Daar is egter die afgelope paar jaar so gefokus op ‘regte’ dat die anderkant van die muntstuk, naamlik ‘verantwoordelikhede’ afgeskeep is. Dit het veroorsaak dat kinders so bewus is van hul regte, maar nie geleer het wat hul verantwoordelikhede is nie. En hierdie kinders word met tyd ouers,” het sy gesê.

Volgens die kinderwet het die kinders onder andere die volgende regte, maar daarmee saam gaan verantwoordelikheid:

’n veilige huis (en die verantwoordelikheid daarmee saam is om dit op te pas en skoon te hou),
toegang tot kos en skoon water (hulle moet nie met kos mors nie en water skoon hou),
toegang tot mediese sorg (pas jou lyf mooi op en eet gesond),
toegang tot opvoeding (daag op vir skool en luister en respekteer die onderwyser, leer wanneer jy moet),
die reg om gehoor te word (en op hul beurt moet hul weer vir ander luister),
reg om veilig te voel (op hul beurt moet hul ander laat veilig voel en nie boelies wees nie).

“In ’n samelewing waar daar baie sosiale probleme is, is dit nie altyd so maklik om ’n kind net uit ’n huis te verwyder nie. Dit opsigself is ook reeds traumaties vir enige kind. Ons moet eerder probeer om veerkragtige gemeenskappe te skep wat goed na hul kinders omsien.”

Fouché is die enigste maatskaplike werker wat omsien na die dorpsgedeelte van Modimolle. Die departement van maatskaplike ontwikkeling se kantore in Phagameng het meer as tien maatskaplike werkers om daardie gemeenskap te bedien.

Volgens Fouché sien hulle dat talle gesinne swig onder ekonomiese druk.

“’n Groot deel van die inwoners in die dorp verdien minder as die minimum loon. Geskooldheid speel ook ’n rol, want die regte lewensbesluite word nie altyd geneem nie, soos om te gaan werk of om tuis te bly om na die kinders om te sien,” het sy gesê.

Rata lewer ’n reeks dienste aan behoeftiges en diegene wat hulp nodig het in die gemeenskap.

“Ons betaal sommige behoeftige gesinne se skoolfonds, neem kinders vir terapie, assesserings en mediese ondersoeke. Ons verskaf ook doeke en formule melk aan gesinne waar daar babas in nood is en gee kospakkies wanneer dit nodig is,” het Fouché gesê.

Maatskaplike dienste in die omgewing is egter onder groot druk met min werkers en hulpbronne.

Om fondse in te samel en bewusmaking aan te moedig, verkoop Rata vir kinderbeskermingsweek groen linte teen R10. Die fondse sal aangewend word om broodnodige dienste te lewer.

Diegene wat linte wil aankoop of Rata op ander wyse wil ondersteun, kan Macheré Botha skakel by tel. 066 117 4723.

Related Articles

Back to top button