LifestyleLocal news

Man vertel oor sy pad met vrou se Alzheimers

Dit is ’n lang en pynlike totsiens, waar die mens vir wie jy soveel jare só lief was, stadig van jou af wegglip.

“Min mense verstaan die groot hartseer en hoe vreeslik moeilik dit is vir die een wat langs die Alzheimer-pasiënt se bed staan,” sê dr. Thinus du Plessis.

In sy digbundel, “My Nag het Donker Geword”, het hy oor die jare heen sy en sy vrou Carien se pad met hierdie siekte beskryf.

“In my gedigte het ek beskryf hoe ek dit ervaar, maar ook oor hoe ek dink sy daaroor voel.”

’n Vriendin in Polokwane het hom ’n tydjie gelede genader om by ’n vrouevereniging te kom gesels oor sy pad saam met Alzheimerse siekte.

“Dit was vir my baie swaar. Carien was op daardie stadium 18 maande in die sorgsentrum en ek was baie rou,” het hy gesê.

Sy praatjie het soveel byval gevind, dat hy gevra is om dit weer aan te bied. Du Plessis, wat op Die Oog-aftreeoord in Mookgophong woon, het tesame met Gert Bouwer, ’n oudskoolhoof en begaafde musikant, besluit om ’n vers en klank program saam te stel. Dit is by Die Oog aangebied en die aanvraag het hulle onkant betrap.

“Meer as 300 mense het opgedaag en daar was nie genoeg sitplek beskikbaar nie. Ons het versoeke gekry, veral van die inwoners van die Kokanje-aftreeoord om dit weer aan te bied.”

Die vertoning, “Saam op Reis Deur Die Lewe” word op Saterdag 11 Mei by die Weesgerus-vakansieoord aangebied. Van Du Plessis se gedigte is getoonset deur Tilla Labuschagne en Prof. Jorrie Jordaan, wat die Potchefstroom-mannekoor se solosanger vir baie jare was, tree ook op. Die program is ’n verwewing van musiek en vers, met die gehoor wat deur samesang betrek word.

Geestelike musiek, sowel as komposisies van Beethoven is deel van die program. Saksofoon en mondfluitjie help om die verhaal verder te vertel.

Oor sy en Carien se lewe, vertel Du Plessis dat sy in haar jong dae ’n intelligente vrou was wie se hande vir min verkeerd gestaan het.

“Ons het ontmoet terwyl ek teologie en sy onderwys studeer het. Ons eerste gemeente was in Salisbury (nou Harare) in die ou Rhodesië. Gedurende my loopbaan was ons in Stilfontein, Kemptonpark Pietermaritzburg en het uiteindelik in die Kaap afgetree. Ons is Bosvelders in ons harte en toe ek nie verder kon werk nie, het ons besluit om by Die Oog te kom aftree omdat hier ’n goeie versorgingseenheid is en ek beter na haar sal kan omsien.”

Hy beskryf Alzheimer as ’n jarelange sterfproses.

“Naderhand is dit net die liggaam van die mens vir wie jy lief was wat oor is en waarin jy aanhou om na hulle te soek,” sê hy. “As ’n mens nie saam met iemand bly wat Alzheimer het nie, verstaan ’n mens nie hoe diep dit jou lewe raak nie.”

Die twee-uurlange program word op Saterdag 11 Mei om 09:30 deur Bouwer en Du Plessis in Weesgerus se saal aangebied. Toegang is gratis, maar donasies word gevra ten bate van Die Oog se sorgsentrum en Kokanje se Alzheimer-eenheid.

Plekke moet vooraf bespreek word by Nicolene by tel. 082 567 0973.

Related Articles

Back to top button