Local newsNewsSchools

Meneer Hempies sal lank onthou word

Totsiens meneer Hempies!

Die gemeenskap van Modimolle het verlede week ’n groot gees gegroet toe Hempies du Preez, wat voor sy aftrede 25 jaar lank die hoof van Laerskool Nylstroom was, oorlede is.

Hy het diep spore in die gemeenskap getrap gedurende sy tyd as skoolhoof. Hy het in 2019 afgetree.

Du Preez is op Woensdag 10 April tuis oorlede na ’n kort siekbed. Hy was voor dit ’n tyd lank gehospitaliseer.

“Ons gesin se harte is op hierdie stadium stukkend,” het Fanie Viviers, sy skoonseun wat jarelank saam met hom skoolgehou het, gesê.

Ná sy aftrede het du Preez aan Die Pos gesê dat die Bosveld in sy bloed is en hy net hier in die dorp gaan aanbly.

Hy het sy belofte aan die skoolkinders gehou dat hulle hom nog gereeld langs die sportveld gaan sien tydens byeenkomste en wedstryde.

“My skoonpa het ’n mooi manier gehad om met die kinders te werk. Hy het hulle almal dieselfde behandel en waar hy ook al gegaan het, het die kinders hom drukkies kom gee. Hulle was banger dat hulle hom sou teleurstel as dat hulle geroskam sou word. Sedert sy afsterwe het ons van oraloor oproepe ontvang – selfs van mense in hul veertigs wat in een van sy eerste rugbyspanne was,” het Viviers gesê.

Du Preez kom uit ’n familie wat toegewyd is aan die onderwys.

Benewens sy dogter Cheré wat ’n onderwyser by Eenheid Primary School in Modimolle is en haar man Fanie wat tans die hoofdepos by Settlers Agricultural High School volstaan, is sy twee susters en broer ook in die onderwys gewees. Sy vrou Rensche was tot in 2014 ’n graad 1-juffrou by Laerskool Nylstroom.

Skoolhou, het hy geglo is ’n lewenswyse.

“Ons is baie dankbaar teenoor die hele gemeenskap vir hul liefde, ondersteuning en gebede. Dit word opreg waardeer,” het Viviers gesê.

Du Preez se diens vind op Vrydag, 19 April om 14:00 vanuit die NG-gemeente Waterberg, oftewel die Witkerk, in Modimolle plaas.

Hy laat sy eggenoot Rensche, sy kinders Chêré, Stephan en Eduard hul eggenote Fanie en Sunette agter asook sy kleinkinders Daníca, du Preez, Stian Vivier, Arno en Kara du Preez.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button