Local newsNews

Welkome reën sak uit oor die Waterberg

Die sluise van die hemel het sedert verlede week oopgegaan en broodnodige reën gebring wat die somer se erge droogte gebreek het.

Weervoorspellers het reeds verlede week gesê dat daar ’n afsny-laagdrukstelsel oor Suid-Afrika gevorm het en hul vooruitskouing was dat groot dele van die land swaar reën sou ontvang.

In die Wes Kaap is groot skade aangerig met sterk winde en baie hoë reënvalsyfers wat tot ’n vlak 9-waarskuwing gegradeer is. Fotos van voertuie wat deur die wind by die Hugenote-tonnel, in Sir Lowrey’s-pas, van die paaie gewaai is, het Suid-Afrikaners weer laat besef dat weerstelsels baie ontwrigtend kan wees.

In Bela-Bela het Matie Barnard van die Mabalingwe-natuurreservaat vertel dat hul die afgelope naweek 50 mm reën ontvang het. Hy het voorts gesê hoewel die reën eers laat in die seisoen geval het, het die veld goed herstel na die vernietigende brand in Oktober. Die wild kry steeds byvoeding maar daar is genoeg gras tot in die winter.

Die kleiner bome in dele van Mabalingwe is beskadig in die brand, maar die groot en ouer bome kon die hitte van die brand weerstaan en het ook gou ’n nuwe blare kroon gevorm. Die diere wat blaarvreters is, het dus ook genoeg kos. Vir die smulpape onder die diere, soos die olifante, is daar nog genoeg maroelabome om hul lekkerbekke te bevredig. Hy sê dat hul opreg dankbaar is vir die reën wat op die regte tyd geval het.

Volgens Arnaud le Roux, bekende landboukundige, het die reën eers laat in die seisoen geval.

“In Desember het goeie reën uitgesak en die boere het dag en nag geplant. Die agt weke van uiterste hittegolf wat ons in Januarie en Februarie ondervind het, het egter die jong gesaaides laat swaarkry en boere sê dat hul mielies in die slag gebly het. Sonneblomme en sorghum het genoeg vog gestoor om die hittegolf te kon oorleef en die reën van die afgelope week kan moontlik hierdie oeste nog red.”

Vir die vee- en wildboere was die reën bietjie laat. Die veld se groeiseisoen is reeds verstreke en Le Roux meen dat boere in die winter byvoeding sal moet gee. Hy het ook genoem dat boere volgens die drakrag van hul plase, hul oorskot veë bemark, maar die vleispryse is nie na wense nie.

Le Roux wat ook by die Bela-Bela Brandvereniging voorsitter is, sê die reën het vir die huidige darem die risiko van brande verminder. Hy het egter steeds gemaan dat die maak van oop vure en die winderige toestand nou, ’n vuur baie vinnig kan laat versprei.

Inwoners in die dorp het op sosiale media groepe aangedui dat tussen 50 mm en 75 mm vanaf Woensdag 4 April geval het. Geringe skade is aangerig met takke wat geskeur het in die wind.

In die Modimolle-omgewing het Ben en Petro Greeff laat weet dat hul slegs 13 mm oor die laaste week gemeet het. Dit was twee buie reën wat geval het en min indien enige skade aangerig het. Die ander betroubare bron en amateur weerkundige, Pieter Strydom van PSG, het aan Die Pos gesê dat hy met vakansie in KwaZulu-Natal is en nie weet hoeveel het dit in die Bosveld gereën het nie, maar wel kan sê daar was gure weer in Ballito.

Floris Booysen, ’n boer van Crecy en voorstitter van die Potgietersrus Distrik Landbou Unie, het aan Die Pos gesê in sy omgewing het dit kol-kol gereën. Van die boere het slegs 12 mm aangeteken en ander tot soveel as 100 mm reën gekry. Hy sê dat die droogte en versengende hitte ’n negatiewe uitwerking het op vanjaar se oeste.

Die Towoomba-landbounavorsingstasie net buite Bela-Bela wat die amptelike weerstasie van die dorp is en hul van elektroniese reënmeters gebruik maak, is gekontak maar teen druktyd het hul nog nie terugvoering gegee nie.

Related Articles

Back to top button