EntertainmentLocal news

Uithaler-glansaand bekoor gaste by kasteel

Wanneer ’n mens in ’n kasteel feesvier word dit heel gepas gedoen met swier en glans.

Die Afrikaanse Protestante Kerk Naboomspruit (APK) het verlede Saterdag met hul jaarlikse Glansaand by Castle De Wildt buite Modimolle gesorg dat die funksie steeds heelbo aan die lys van spoggeleenthede in ons lesersgebied bly.

Die geleentheid is vanjaar vir die derde keer gehou en daar is niks ontsien om dit ’n onthou-aand te maak nie. Vanjaar het sowat 430 gaste in hul mooiste vere opgedaag om die samesyn te kom geniet.

Sowat 430 gaste het die Glansaand bygewoon.

Floris Booysen, hooforganiseerder en ouderling van die kerk, wys daarop dat dit is ’n funksie ten bate van liefdadigheid en ’n gedeelte van die opbrengs gaan aan die Naboom Tehuis vir Bejaardes.

Met die aankoms by die imposante kasteel het fotograwe gereed gestaan om die gaste in die ontvangsarea af te neem.

Die sangpaar Wynand en Cheree het die gaste met hul musiek vermaak.

Daar is toe so saam met die kuier in die binnehof ook in die kapel geluister na die instrumentale klanke van die drie susters van die groep, Con Grazia Trio, wat met saksofoon en viole hemelse musiek maak.

Binne die saal kon die gaste aansit by keurig gedekte tafels. Die driegangmaaltyd is deur die susters van die kerk onder leiding van Christa Jacobs voorberei en dit het fyn beplanning gekos om seker te maak als verloop seepglad. Hannetjie Fouché en haar span was vir die pragtige dekor verantwoordelik.

Daar is gesmul aan ‘n heerlike voorgereg wat bestaan het uit verskeie happies voordat die sangpaar Wynand en Cheree op die verhoog aan die beurt gekom het. Die egpaar het vanaf Langebaan in die Wes-Kaap gekom om die Waterbergers te bekoor.

Die voorgereg was uit die boonste rakke.

Die kelners, leerders van Hoërskool Hans Strijdom, het nie ’n voetjie verkeerd gesit terwyl Con Crazia se trio in swierige rooi rokke die gaste so tussendeur die smaaklike hoofgereg betower het met hul musiek.

Aan die einde van die hoofgereg was die aand nog lank nie verby nie. Die gaste kon agteroor sit en op ’n verskeidenheid items bie. Daar was vanaf ’n vakansie in Mosambiek, wildspakkete en ’n visvanguitstappie wat gaste kon bekom.

Die genotvolle samesyn is afgesluit met nagereg vir die soettand. Die gaste het ook almal hul foto’s wat vroegaand geneem is gratis in die ontvangsarea afgehaal. Booysen bedank almal wat betrokke was by die reëlings en ook die borge.

  • Die Pos sê dankie dat ons die glansaand, as gaste, saam kon geniet.

Related Articles

Back to top button