Local newsNews

Só staan sake met Modimolle se besighede

Hoe meet ’n mens werklik wat die stand van die ekonomie in ’n plattelandse dorp is?

Die Pos het gaan aanklop by rolspelers in Modimolle om te hoor wat die stand van sake is, veral ná die knou wat Covid-19 en die gedwonge grendeltyd sakeondernemings toegedien het.

Sonja Beukes van die ModiMall sê dat hul sentrum se winkelspasie vol is. Nie net het ’n Woolworths-klerewinkel sy deure onlangs geopen nie, maar daar maak binnekort ’n Mc Donalds-wegneemete oop. Die sentrum is in samesprekings met nóg ’n wegneemete-franchise wat hul restaurant moontlik naby die Shoprite-winkel sal open. Die bestuur bespreek ook die volgende fase van die sentrum wat langs Shoprite sal uitbrei.

Arnold van Zyl van die eiendomsagentskap Century 21 Bushveld, wat in die Sparrow-winkelsentrum geleë is, sê dat dié sentrum bykans vol is. Daar het onlangs ’n Takealot-afhaalpunt oopgemaak en Ons Winkel, wat tweedehandse items verkoop, brei uit.

Verskeie nuwe ondernemings het die afgelope paar maande hul deure geopen in Modimolle: Alliance Fuels met ’n wegneemeteplek, Noordstaal, Sampada Agri met hul slaghuis, drankwinkel en binnekort ’n restaurant, die Wolhuisie en Bodytec Studios om net ’n paar te noem.

Ongelukkig is daar ook ondernemings wat hul deure noodgedwonge moes sluit. Die terugvoer wat Die Pos by talle ondernemings kry, is dat dit steeds taai ekonomiese tye is. Hul het ook gesê dat die addisionele koste om hul deure gedurende beurtkrag oop te hou help nie.

’n Goeie aanduiding van positiewe ekonomiese aktiwiteit in ’n dorp is die eiendomsmark. Volgens Van Zyl is die huismark nog relatief stil met die hoë rentekoerse en petrolkostes wat kopers se beursies dun hou. Huurhuise is egter so skaars soos hoendertande. Jaco Behrens van Remax-eiendomme beaam dit.

“Huurhuise word binne ’n dag of twee nadat dit geadverteer is, opgeraap. Dit is nie noodwendig die klein plekkies nie, maar groter huise wat gesinne huisves. Dit geld vir beide Modimolle en Bela-Bela. Ons het ’n waglys van mense wat op soek is na huurhuise,” het hy gesê.

Hy het genoem dat gesinne wat van elders kom en persone wat in die Bosveld kom aftree, dikwels eers wil huur voordat hulle besluit om te koop.

Related Articles

Back to top button