Local news

Anne, beskermengel vir Rusoord se bejaardes

As daar in Bela-Bela ’n vrou is wat ’n medalje verdien vir onbaatsugtige werk in die gemeenskap, is dit sekerlik Anne Van Blerk.

Hierdie sterk vrou met ’n hart vol omgee vir die weerbare oumense in ons samelewing is reeds 16 jaar aan die stuur van Warmbad Rusoord, die tuiste vir bejaardes. In hierdie tyd het sy Rusoord deur moeilike tye bestuur en het sy met onwrikbare toewyding en harde werk die beperkte begroting gerek om die heel beste tuiste en sorg vir die inwoners te kan bied.

Sy en haar man Fanie, het 23 jaar gelede hul besige lewe in die stad agter gelaat en hul twee kinders in die Bela-Bela-gemeenskap laat gedy. Sy was jare lank in die gasvryheidsbe-
dryf, in ’n bestuurspos, betrokke. Van die uitdagings wat ’n luukse oord kan bied het sy baie jare ondervinding.

Ds. Danie Nelson het tydens ’n huisbesoek vir haar vertel van die bestuurspos by Rusoord wat vakant is, en het haar sommer gepols om aansoek te doen. Dit was egter haar diepgewortelde geloof en die ondersteuning van haar gesin wat haar laat besluit het om die nuwe uitdaging aan te pak. ’n Taak wat sy elke dag met oorgawe uitvoer.

Tydens Die Pos se besoek het sy vertel hoewel sy altyd ’n sagte plek gehad het vir bejaardes het sy na haar aanstelling eers besef hoe kompleks dit is om aan al die inwoners se behoeftes te voldoen.

“Om oud te word, word dikwels beskou as ’n nuwe fase in jou lewe, een wat gepaard gaan met ’n verskeidenheid uitdagings maar ook met baie vreugdes,” het sy gesê.

Haar Rusoord-familie het immers ’n skatkis van goue herinneringe en lewenswaardes wat hul graag wil deel. So word elkeen se lief en leed ook joune.

Anne het ’n diepe insig dat al word mens ouer en jou geheue taan, het jy steeds ’n versugting om met respek en liefde hanteer te word. Dit is ononderhandelbaar in haar dag-tot-dag werksaamhede. Sy vertel dat die persone wat aanvaar dat hy of sy in die bejaarde fase van hul lewens is, maklik aanpas en dit is werklik ’n plesier om met hulle te werk. Die realiteit is ook daar dat sommige bejaardes nie kan aanvaar dat hul jare aangestap het nie en soms ’n bietjie kan rebelleer.

Sy verstaan die belangrikheid van humor te midde van die hartseer.

“My motto is, omdat ons soveel hartseer sien, moet ons die humor in elke geringe situasie soek,” sê sy.

Sy sê dat hoewel die personeel betaal word vir hul dienste, put hul soveel vreugde uit die onvoorwaardelike liefde wat hul ontvang.

Dit is hierdie begrip en medelye wat haar onderskei as ’n bestuurder wat met ’n sagte hart maar ’n ferm hand Rusoord bestuur. Dit is ’n simbiotiese verhouding want ons almal baat
daarby.

Sy vertel tong in die kies dat hul al baie kostelike gebeure daar gehad het en dat mens jou sal verstom in watse vreemde omstandighede bejaardes hul soms kan bevind. Maar in die jare wat sy daar is, was dit nog net een keer nodig vir die direksie om aan ’n inwoner ’n brief te moes skryf. Sy vertel ook dat liefde geen ouderdom ken nie en dat daar al ’n paar gelukkige liefdesverhoudinge gevorm het. “Ons het al selfs ’n troue gevier.”

Een van die grootste uitdagings vir Anne en haar span is om die finansiële belange van Rusoord te bestuur. Met befondsing van die staat wat feitlik opgedroog het en ’n afname in subsidie oor die jare, het Anne dit ‘n missie gemaak om alternatiewe bronne van ondersteuning en befondsing te vind. Gelukkig ontvang Rusoord hulp van die plaaslike kerke en ander donateurs wat altyd bereid is om te help om die noodsaaklike benodigdhede vir die inwoners te voorsien.

In haar persoonlike lewe is Anne ’n toegewyde vrou, moeder en ’n trotse ouma. Sy waardeer die waarde van gesinsbande en het ’n ryk, vervulde lewe buite haar werk. Haar liefde vir stap in die natuur en wateraerobiese oefening is van die maniere waarop sy ontspan en haar siel voed.

Vir Anne is omgee nie deel van haar werk nie – dit is ’n lewenswyse.

Sy sê, “My werk is ’n groot deel van my. Ek werk nie eintlik nie, ek lewe net in Genade en ek doen alles vir die Here. Hy stel my in staat om met deernis die inwoners se laaste jare in waardigheid en liefde te kan sluit.”

Haar nederigheid, toewyding en liefde vir die ouer gemeenskap maak haar ’n ware baken van lig vir diegene wat hul tuiste by Warmbad Rusoord vind.

Related Articles

Back to top button