EntertainmentLocal newsNews

Besoek Vaalwater vir ’n fees der feeste

Daar word groot makietie op Vaalwater gehou oor die naweek van 5 tot 7 April om die opknapping van die dorp se sportgeriewe by die Boeresaal te vier.

Besoekers kan uitsien na vertonings van bekende kunstenaars, ’n praatjie oor peste in die tuin en ’n markdag.

Planne om nuwe lewe in die Boeresaal te blaas het ’n groot hupstoot gekry nadat befondsing van Lottoland Help ’n Dorp af verkry is om die vier tennisbane en twee netbalbane op te knap.

Volgens Johannes Kleinhans, voorsitter van die sakekamer, het Lottoland ’n bedrag van R386 000 geskenk nadat hulle ’n voorlegging gedoen het.

Die Vaalwater-gemeenskap het min sportgeriewe tot hul beskikking en die Boeresaal is ’n gereelde bymekaarkomplek vir vergaderings en ander byeenkomste.
’n Nuwe jukskeiklub word ook op die been gebring nadat die sakekamer fondse daarvoor gegee het.

Die klub sal ook van die Boeresaal se geriewe gebruik maak.

’n Televisiespan van Lottoland besoek die dorp gedurende die feesnaweek om ’n halfuur lange program oor die opgradering van die sportgeriewe te skiet.

“Dit is uitstekende blootstelling vir ons dorp,” het Kleinhans gesê. Die program word op Woensdag 22 Mei op DSTV uitgesaai.

Die aanbieder van die program, die sangeres Leah, tree Vrydagaand om 19:00 op by die Vaalwater Hotel. Die amptelike oorhandiging van die terrein vind Saterdag om 10:00 plaas en die boeremark met tien talle stalletjies is ook dan oop tot 15:00 die middag.

Des van Heerden, ’n bekende entomoloog van Bela-Bela, gesels om 11:00 oor insekte, siektes en kwale in jou tuin.

Matthys Roets tree Sondag om 13:00 op onder die koeltebome by die tennisbane. Besoekers kan hul eie piekniekmandjies en kampstoele bring of kos by die stalletjies koop. Om plek te bespreek stuur ’n Whatsapp-boodskap na tel. 083 250 7989.

Vir meer inligting omtrent die jukskeiklub, skakel Ans Malan by tel. 072 437 8147.

Related Articles

Back to top button