EntertainmentLocal news

Glansaand beloof om weer ’n fees te wees

Op Saterdag 6 April kan Waterberg-inwoners weer deel hê aan die spoggerige Glansaand, wat vir die derde jaar by Castle De Wildt buite Modimolle aangebied word. Hierdie is gewoonlik werklik ’n glans geleentheid en ongeveer 500 gaste in hulle beste vere word verwag.

Die APK (Afrikaanse Protestantse Kerk) in Mookgophong bied die aand aan ter fondsinsameling van die kerk maar ’n groot bedrag word telkens aan die Naboom Tehuis vir Bejaardes geskenk om hulle fondse aan te vul.

Hierdie jaar is die kunstenaars Wynand en Cheree Strydom, asook die begaafde vioolspelers, Con Gracia Trio.

“Ons sien baie uit na die geleentheid en die kaartjies is byna uitverkoop. Daar is reeds 460 kaartjies verkoop. Die gemeenskappe in die Waterberg se ondersteuning word hoog op prys gestel. Daar is ook gaste wat van Gauteng af kom om ons te ondersteun,” sê Floris Booysen, een van die organiseerders.

Daar word later die aand weer ’n veiling gehou om die fondse aan te vul.

Verskeie jag- en visvangpakette en naweekwegbreke sal deel van die veiling wees.

Die Pos is bevoorreg om die spogaand op uitnodiging by te woon. ’n Heerlike driegang-maaltyd sal deur die susters van die gemeente voorgesit word.

“Hierdie is ook ’n geleentheid vir die vroue om hul deftige aandrokke uit die kas te haal en die aand saam te kom geniet,” sê Booysen.

Related Articles

Back to top button