Local newsNews

Dié ‘veterane’ se spore trap diep in geskiedenis

Die gedreun van enjins het verlede Saterdag, 9 Maart, die gewone stilte oor die Springbokvlakte versteur, maar dit het vir ’n besonder heerlike dag se vermaak gesorg.

Die Settlers Veterane-klub, in samewerking met die plaaslike boerevereniging het hul jaarlikse veteraan-trekker en -motordag by die Settlers Landbou-museum gehou.

Die dag was gevul met nostalgie, heerlike samesyn en Vlakte-gasvryheid. Daar was verskeie stalletjies waar besoekers na hartelus kon kies tussen die handgemaakte artikels van leer, kuns, fyngebak en heerlike ingelegde produkte uit die kontrei. Maar die reuk van sappige boerewors oor ’n hardekool vuurtjie het almal se sintuie geprikkel en was loshande die gewildste.

Hoe rooier, hoe mooier lui die spreekwoord. As dit boonop ’n kragtige Chevy was, was jy beny deur almal.

Met die doef-doef-doef van die 1947 Australiese, 1,5 perdekrag, Southern Cross-motor wat die hartklop van die geleentheid ritmies bygehou het, kon die hele gesin deel in ons historiese landbou-erfenis van weleer. Ou motors en trekkers was die groot trekpleister van die geleentheid en die terrein was gevul met bekende handelsname uit die geskiedenis van die motor wêreld, soos Ford, Chef, MG, Mazda en selfs ’n Porche of wat. Baie van hierdie spog voertuie het van Polokwane gekom. Hierdie voertuie moet ook nie op hul ouderdom getakseer word nie, hul is padwaardig en het self die sowat 250 km afgelê. In die landboubedryf was die legendariese trekkers van John Deere, Fordson, McCormick, Farmall, Case en vele meer op skou.

’n Prag geel en groen Chevrolet van toentertyd.

Volgens Gerrit Fourie van die Veterane-klub, het die Settlers Boerevereniging hul eerste veteraan trekkerskou in 2010 aangebied, toe hul die museum geopen het. Hy self het op ’n 1932 Farmall-trekker ’n demonstrasie rit gery. Die trekker het aan sy oupa behoort en dit is op die einste trekker wat hy as jongeling, leer bestuur het.

Die oudste trekker wat op die skou was is ’n 1929 Case, wat na 95 jaar nog steeds aanstap.

Dié ou statige Ford is ook van nader beloer.

Die Settlers Veterane-klub is geaffilieer by die Hoëveld Veteraan-trekker en -enjinklub, en hulle bied jaarlikse hierdie geleentheid aan.

Die Settlers-klub het ’n goed toegeruste werkswinkel waar lede self die ou trekkers en enjins restoureer en in lopende toestand hou.

’n Klassieke Porsche.

Die Settlers-landboumuseum is self ook ’n besoek werd. Daar is huishoudelike artikels wat uit ons voorgeslagte se huise gekom het en ’n besondere groot versameling naaldwerkmasjiene. Die museum is elke Woensdag oop, maar kan per afspraak op ander dae ook besoek word.

Dit is ’n kosbare kleinood op ons eie voorstoep.

Related Articles

Back to top button