Local MotoringLocal newsMotoringNews

Stygende brandstofpryse maak seer

En daar is die volgende skok vir ’n reeds wankelende ekonomie – brandstofpryse styg om middernag Dinsdag, 5 Maart met meer as 100c per liter.

Die Minister van minerale en hulpbronne, Gwede Mantashe, het Maandag 4 Maart die nuwe brandstofpryse vir Maart bekend gemaak:

• 93 oktaan petrol styg met R1,21 per liter
• 95 oktaan petrol styg met R1,21 per liter
• Diesel (grootmaat) 0.05% swael inhoud styg met R1,06 per liter
• Diesel (grootmaat) 0,00% swael inhoud styg met R1,19 per liter
• Krag paraffien styg met 64c per liter
• LP-gas styg met 41c per kilogram

Verskeie sake-eienaars in Bela-Bela het aan Die Pos hul kommer oor die brandstof styging uitgespreek. Sommige sakeondernemings en die munisipaliteit het kragopwekkers (generators) in plek vir wanneer dit beurtkrag is, maar die skerp styging in brandstofpryse maak die gebruik van kragopwekkers byna onbekostigbaar en saam met beurtkragskedules wat op kort kennisgewing verander, maak dit die uitdaging vir sakeondernemings om hul deure oop te hou, nog moeiliker.

Lizel Smith van Realnet het aan Die Pos genoem dat as ’n eiendomsagent moet sy haar roete in die dorp deeglik beplan om nie onnodige brandstof te vermors nie. Die probleem is egter wanneer sy kliënte gaan sien buite die dorp.

“Dan vat dit baie aan die sak, want soms moet mens ’n eiendom meer as eenkeer vir ’n kliënt gaan wys.”

“Print It kan eenvoudig nie bekostig om ’n 3 fase kragopwekker te gebruik gedurende beurtkrag nie. So, ons werk rondom die beurtkragskedule met ons produksie lyn. Dit beteken dat ons nie noodwendige addisionele kostes aangaan nie, maar jy verloor wel inkomste, omdat jy vir daardie twee tot vier ure nie aktief sake kan doen nie. Ons beweeg nou oor na ’n alternatiewe krag ondersteuning stelsel, maar dit vra groot kapitale uitleg,” het Jee-Dee Cloete, eienaar van Print It en Raadslid van VF Plus aan Die Pos gesê.

Monique Von Stade van Waterberg Karate Academy het gesê dat die styging ’n uitdaging veroorsaak vir studente wat vanaf Modimolle na Bela-Bela moet reis om te oefen. Die klub is bekommerd dat ouers net eenvoudig dit nie meer sal kan bekostig om te ry nie, en hul lede sal verloor.

Karin Odendaal, eienaar van B-2u Models sê: “Die stygende brandstofpryse het definitief groot veranderinge in my persoonlike en professionele lewe gebring. Vir my modelle beteken dit dat ons baie van die groot kompetisies eerder aanlyn doen. Dit het onbekostigbaar geword om na die groter sakesentrums te ry waar kompetisies aangebied word. Dit het tot gevolg dat die modelle nie blootstelling op die loopplank kry voor ’n gehoor nie.”

Steven Nel van Camo Meat sê die verhoging in brandstofpryse het ’n reuse impak op sy sakeonderneming. Hy sê dat hul wildskarkasse by boere gaan afhaal en die verwerkte produkte word per pad vervoer na die onderskeie slaghuise. “By die verwerkingsaanleg het ons twee 3-fase kragopwekkers wat inskop wanneer daar ’n elektrisiteitsonderbreking is. Ons koelkamers moet teen ’n konstante lae temperatuur gehou word.”

Related Articles

Back to top button