Local newsNews

Geldinspuiting vir boeresaal

’n Groep inwoners, in samewerking met die Vaalwater-sakekamer, werk hard om nuwe lewe in die dorp te blaas. Hul pogings het onlangs ’n stewige hupstoot gekry toe Lottoland ingestem het om by te dra vir die opknapping van die boeresaal.

Volgens Johannes Kleinhans, voorsitter van die sakekamer, het Lottoland ’n bedrag van R386 000 gegee.

“Daar gaan binnekort grootskaalse verbetering aangebring word en die boeresaal gaan ’n nuwe baadjie aantrek. ’n TV-span gaan die naweek van 5 en 6 April die vordering kom verfilm. Hierdie is ’n groot geleentheid vir Vaalwater en vir die volgende vyf weke sal inwoners werkers sien wat twaalf ure ’n dag rondhardloop. Beeldsending van Vaalwater op nasionale televisie is waarskynlik ’n eerste vir die dorp en ons moet ons beste voet voorsit,” het hy gesê.

Die vier hektaar grond waarop die boeresaal geleë is, is reeds baie jare al ’n ontmoetingsplek vir die gemeenskap waar opleidingkursusse, toerisme-vergaderings en markte plaasgevind het en stemlokale opgerig is. Die grond behoort aan ’n trust en nie die munisipaliteit nie. Die St. Johns-kerk sien om na die grond en geboue.

Verskeie verbeterings word beplan, soos die skoonmaak van die terrein en die aanlê van voldoende water vir die tuine. ’n Nuwe heining sal opgerig word en die vier tennisbane sal vernuwe word. Een van die tennisbane sal ’n dubbel doel baan wees sodat daar ook netbal gespeel kan word.

Volgens Kleinhans het die sakekamer ook goeie gesprekke met die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se burgemeester, Sechele Sebolai gehad. Sebolai het in die omgewing groot geword.

“Die sakekamer se doelwit is om ’n beter dorp vir die inwoners te skep. Met die hulp van elke inwoner en elke sakeonderneming- en plaaseienaar, kan ons Vaalwater ontwikkel tot waar dit moet wees. Die welvaart van die dorp het immers ’n direkte impak op die sukses van elke sakeonderneming,” het Kleinhans gesê.

Van die struikelblokke wat hul terughou is die beperkte fondse en ’n lae ledetal. Hulle moedig sakeeienaars in die omgewing aan om betrokke te raak. Die opknapping van die hoofstraat moet eers wag, aangesien die beplande nuwe deurpad deur die dorp na raming in April gebou word.

Vir meer inligting of om betrokke te raak, kontak Kleinhans by tel. 083 250 7989.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button