Local newsNews

‘n Nuwe rekordprys behaal vir ‘n stoetbul

Dit is ’n bul-en-’n half wat tydens die Nu-Alcade se 36ste Bonsmara-groep produksieveiling wat Donderdag 15 Februarie by Warmbad Veemark (Vleissentraal Bosveld), buite Bela-Bela gehou is, die rekordprys behaal het. Daar was 140 lotte skougehalte diere aangebied.

Die Nu-Alcade veilings wat landswyd bekend is, is ’n trekpleister vir boere van oral. Daar was 130 geregistreerde kopers op die veiling en hul was aktief besig om te bie op die onderskeie lotte.

Daar was 21 stoetbulle te koop aangebied. Die gemiddelde prys vir ’n stoetbul, volgens statistiek van vorige veilings, is nagenoeg R141 190. Die kopers was egter aangenaam verras toe lot 10, wat ’n enorme groot Bonsmara-stoetbul van Thinus Maritz-boerdery in Vaalwater is, in die arena ingejaag is en die hamer op ’n rekordprys van R620 000 geval het.

Volgens Carel Chalmers, bemarker vir Vleissentraal in Bela-Bela en Modimolle, is dit die duurste bul wat nog ooit op een van hul veilings by Warmbad Veemark verkoop is.

“Ek is al tien jaar betrokke by Vleissentraal en het dit nog nooit beleef nie,” het Chalmers gesê.

Die nuwe eienaar van hierdie swaargewig bul is Allen Bros (PTY) LTD in Viljoenskroon.

Die aantal diere wat verkoop is, is 334 en die omset vir die dag was R12 602 450.

Met baie goeie pryse wat deurgaans op die veiling behaal is, blyk dit dat die Bonsmara-genetika sy posisie as ’n kernpilaar in die Suid-Afrikaanse beesteeltbedryf verstewig.

Related Articles

Back to top button