Local news

Gemeenskap groet ’n groot gees in die plaaslike vleisbedryf

Inwoners van Bela-Bela en die omgewing het met skok verneem van die afsterwe van Gerrie Coetzee, ’n bekende in die vleisbedryf.

Gerhardus Coetzee, beter bekend as Gerrie, wat ’n steunpilaar in die vleisbedryf is, het op Sondag 18 Februarie gesterf. Op 22 April 2010 het Gerrie ’n droom verwesenlik toe hy sy slaghuis se deure geopen het.

Gerrie het vir 29 jaar in Bela-Bela gewoon, waar mense hom geken het as die beste boerewors-maker en eienaar van Impala Vleismark.

Wickus Coetzee, Gerrie se oudste seun, vertel aan Die Pos dat sy pa nog altyd ’n liefde gehad het om met vleis te werk. Hy vertel staaltjies van Gerrie wat op ses jarige ouderdom sy ouers gehelp het met vleisverwerking en hoe Gerrie op hoërskool dou voor dag opgestaan het om vleis na die Pretoria-mark te neem en te verkoop.

Hy was ’n natuurmens by uitstek en was op sy gelukkigste op die plaas saam met sy gesin. Hy was ook ’n gerespekteerde jagter wat met verantwoordelikheid iets vir die pot geskiet het.

Wat min mense weet is dat hy ’n kranige byeboer was, wat met verskeie korwe gewerk het.

“Maar, sy grootste stokperdjie was om tyd saam met ons kinders te spandeer,” vertel Wickus.

Hy was ’n man wat omring was van skaterlag en het altyd sy familie en vriende met sy humor vermaak.

Sy nalatenskap sal voortleef deur sy vier pragtige kinders vir wie hy baie lief was: Wickus, Yolindi, Nathan, en Aiden. Sy heengaan laat ook ’n leemte in die gemeenskap,want hy was altyd bereid om te help en veral kerke het op sy knoppie gedruk in basaartyd.

Sy gedenkdiens was Saterdag om 11:00 in die NG Moedergemeente, Bela-Bela.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button