Local news

Dié kursusse help deur seer en uitdagings

Voel jou uitdagings soms te groot om alleen aan te pak? Die Koinonia-gemeente in Modimolle skop die jaar af met ’n reeks Afrikaans en Engelse Bybel-gebaseerde kursusse wat inwoners se hande en harte versterk nie net met kennis nie, maar ook met ondersteuning.

DivorceCare is ’n ondersteuningsgroep wat hulp aan mense bied wat deur die seer van ’n egskeiding werk. Daar word vir dertien weke deur ’n videoreeks gewerk en leiding gegee oor hoe om die emosionele wip-wa-rit baas te raak en ander praktiese wenke oor hoe om belangrike besluite te neem.

Die GriefShare-groep kom Woensdae-oggende byeen. Die groep ondersteun hul lede deur hul rouproses en werk ook deur ’n videoreeks.

Die Woman’s Ministery met hul tema Drawing Near van John Bevere is ’n ses weke kursus wat in Februarie op Maandae-aande van 18:00 tot 19:30 en Woens-
dagoggende van 09:00 tot 10:30 afskop.

Daar is ook ondersteuning vir sakelui met die Orde in Besigheid-kursus wat op Donderdae-aande van 18:00 tot 20:00 aangebied word deur ’n plaaslike rekenmeester. Onderwerpe soos besigheidstrukture, bestuurstyle, verantwoording, verslagdoening en meer word bespreek.

Chosen is die Koinonia-gemeente se jeugbediening en het met ’n nuwe voorkoms en toewyding uit die spreekwoordelike Covid-19-pandemie se as opgestaan en bied ’n gesonde omgewing vir jongmense van 13 tot 18 jaar om te sosialiseer en van die Bybel te leer.

“Hoe kan ons jongmense blameer as hulle vreemde goed aanvang in die soeke na identiteit, aanvaarding en ’n doel in die lewe as ons hulle nie aan die Lig van die wêreld voorstel nie? Dit was die vraag wat ons gedryf het om tot aksie oor te gaan. Ons doel met Chosen is om saam met ander soortgelyke bedienings ons omgewing se jongmense te help om hulle plek in God se Koninkryk te vind,” het past. Louise Buys, wat die groep jonges lei, gesê.

Die jongmense kom op Maandae 18:30 by die Koinonia-gemeente bymekaar, eksamentye en vakansies uitgesluit.

Almal is welkom om by die kursusse en Chosen in te skakel.

Die kursusse word by die gemeente op die hoek van Buffalo- en Olienhoutstraat aangebied.

Vir meer inligting of om te bespreek, skakel tel. 073 525 6447 of besoek www.koinoniacentre.co.za(.)

Related Articles

Back to top button