Local news

Bekende naaldwerkwinkel sluit sy deure

"Ons het so te sê groot geword in hierdie winkel en het ná skool kom uithelp."

Die rakke wat eens dig gepak was met kleurvolle rolle lap en bolle wol, knope, ritse en wat nog, staan leeg. Ná 63 jaar sluit die naaldwerkwinkel, Bambi sy deure.

Die Pos het gaan aanklop by Estelle Vosloo en Tessa Snyders, wat die winkel jarelank bedryf het. Hul vader, Hein Lange, het die lapwinkel 63 jaar gelede begin.

“Ons het so te sê groot geword in hierdie winkel en het ná skool en naweke kom uithelp,” onthou die twee susters.

Hul pa het sy onderneming begin deur Singer-naaldwerkmasjiene te verkoop – dit was in ’n era waar baie mense hul klere self gemaak het.

“Hy het aanvanklik met ’n trok vol naaldwerkmasjiene gelaai deur die Bosveld gery en naaldwerkmasjiene verkoop en reggemaak in dorpe en op plase. Hy het ’n winkel in Nylstroom oopgemaak en later jare in materiaal gespesialiseer in stede van die naaldwerkmasjiene,” vertel Snyders.

Die winkel was oorspronklik geleë waar die ou Stavast Uitrusters, Handelshuis en Fochini-klerewinkel geleë was. ’n Paar sakemanne in die dorp het byeen gekom en besluit om ’n sentrum ’n entjie verder in die hoofstraat op te rig wat ’n aantal sakeondernemings en kantore kon huisves en Bambi het na sy huidige perseel geskuif.

Die winkel het talle modes sien kom en gaan. Wie onthou nie die tyd van “crimpeline bell bottoms”, “windbreakers”, “country”-rokke en daardie bont-khaki manshemde wat die vroue self tuis gemaak het nie? “Ek onthou dat ons daarop aangedring het dat ons ‘bell bottoms’ se pype ten minste ’n halfmeter wyd moes wees, anders was dit nie ‘cool’ genoeg nie,” lag Estelle. Voordat daar ’n PEP was, was Bambi die plek waar inwoners hul sykouse en babaklere gekoop het.

Die twee susters is, nes hul oorlede ma Anna, baie kreatief en vaardig. Tessa, wat die winkel by haar pa oorgeneem het, het naaldwerkklasse en verskeie kursusse hoe om leersandale en teddiebere te maak, skoene oor te trek en wat nog aangebied. Estelle, wat jarelank in boetieks gewerk het, het die winkel in 2014 oorgeneem. Die twee se kennis het talle kliënte na die winkel gelok. Nie net vir goeie raad en oplossings vir naaldwerkprobleme nie, maar ook vir lekker gesels.

“Ons het so baie gelag oor hierdie snytafel,” vertel Tessa.

Die jonger generasie bestel deesdae oorsese klere aanlyn vir goedkoper as wat dit gemaak kan word. Naaldwerk blyk ’n vaardigheid te wees wat die jonger generasie verloor.

“Baie van ons jarelange kliënte het ouer geword en die jonger vroue werk dikwels voltyds en het nie tyd vir naaldwerk nie,” sê Estelle.

Tessa en haar man Flip het ’n paar jaar gelede afgetree. Dit is nou Estelle se beurt.

“Ek sien uit daarna om meer tyd saam met my kleinkinders te spandeer!”

Dié twee susters se hande staan egter nooit lank stil nie en sal sekerlik binnekort begin jeuk vir nuwe naaldwerkprojekte!

Related Articles

Back to top button