Local news

Bekende Modi-sakeman word só onthou

Modimolle het een van sy dekade lange sakemanne vandeesweek vaarwel toegeroep. Harry Smilde (83), wat Smilde’s Engineering 62 jaar gelede begin het, is ná ’n siekbed van vier weke oorlede.

Nadat hy die winkel in 2013 verkoop het, het baie inwoners hom leer ken op sy daaglikse fietstoere deur die dorp. Hy het elke dag, tot kort voor sy siekbed, ten minste 6 km per dag gery.

Sy vrou, Sonja, vertel van al die goeie herinneringe van hul jare saam.

“Harry was ’n goeie mens en baie liefdevol. Hy was nie iemand wat ander mense sleggesê het nie en het ’n oop hand gehad vir dié wat sukkel. Hy was ’n perfeksionis met sy werk gewees.”

Die Smildes het op ’n interessante wyse in Modimolle beland. Smilde en sy ouers is afkomstig van België, maar sy vader het nooit lank op een plek stilgestaan nie.

Hulle het eers België verruil vir Bugumbura, die hoofstad van Burundi en later besluit om na Suid-Afrika te verhuis. Die ingenieurswerke wat hulle daar gehad het, is op hul groot ou Volvo-vragmotor gelaai en Harry, ’n enigste kind, het die groot trek saam met sy ouers Pretoria toe aangepak.

Ná ’n kort tyd in die stad, het hulle die geleentheid gekry om in 1962 Smilde’s Engineering in die destydse Nylstroom te begin.

Hul onderneming was op dieselfde perseel vir al die jare van sy bestaan geleë.

Nadat die gebou verkoop is, het die nuwe eienaar dit die Harry Smilde-gebou genoem en die naam daarop aangebring.

“Ek en Harry het mekaar deur ’n vriend ontmoet. Ek het in Nederland groot geword en was hier op vakansie. Hy het die mooiste blou oë gehad. Ek was so beïndruk met hom dat ek besluit het om te bly,” vertel sy. Die paartjie is ses weke later getroud.

“Hy het altyd vir my gesê dat sy besluit om met my trou, was die beste besluit wat hy ooit geneem het,” onthou sy met ’n glimlag.

Smilde laat sy vrou, Sonja, sy dogter Simone, haar man Jaco Behrens, sy seun Richard Smilde, asook kleinkinders Ilonja en Rinus Behrens en Angelique en haar man Riaan du Toit en agterkleindogter Ilané agter.

Sy gedenkdiens is Saterdag, 24 Februarie om 11:00 in die Hervormde Kerk.

Related Articles

Back to top button