Local newsNews

Vier padwerkers sterf in nóg ’n gru-ongeluk

Limpopo-inwoners het met skok verneem van nóg ’n ongeluk in die Waterberg-distrik wat ook fataal was. Dit volg na die ongeluk buite Mokopane waar sewe mense gesterf het. Dit bring die aantal sterftes in dié omgewing, vanaf die naweek, op 11 te staan.

Die ongeluk het op Maandag 12 Februarie, op die N11 by Ga-Machikiri in die Waterberg-distrik (buite Mokopane) plaasgevind.

Volgens ’n polisiewoordvoerder is die padwerkers deur ’n Opel Astra getref terwyl hul besig was met padwerke.

Luidens ’n verklaring van Vongani Chauke, woordvoerder van die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid, kon spoed en roekelose bestuur die oorsaak van die gru-ongeluk wees.

“Die bestuurder van die Opel Astra is na ’n hospitaal geneem vir behandeling en ’n saak van strafbare manslag is reeds geopen,” het hy gesê.

Die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in die provinsie, Florence Radzilani, het haar skok uitgespreek en ook haar medelye aan die families oorgedra.

“Ons doen ’n ernstige beroep op motorryers om ekstra versigtig te bestuur waar konstruksiewerkers besig is. Daar is tans verskeie projekte in Limpopo waar paaie herstel word. Slaan ag op waarskuwingsborde en verminder spoed waar nodig,” het Radzilani gesê.

Volgens Bakwena N1N4 was hul genoodsaak om die N1 op Maandag 12 Februarie te sluit tussen Murrayhill en Wallmansthal, na ’n ernstige ongeluk daar plaasgevind het. Verkeer in die suidelike rigting is erg ontwrig en het vir etlike kilometers ver opgedam.

Related Articles

Back to top button