Local newsMunicipalNews

Pad onbegaanbaar na reën

Groot slaggate het uitgespoel in talle strate in woonbuurtes in Modimolle na die onlangse goeie reënbuie.

Plek-plek ry motoriste ompaaie om slegte paaie, wat skade aan hul voertuie kan aanrig, te vermy.

Van die strate wat byna onrybaar is, is Impala- en Bassonstraat naby die Boshoffstraatparkie.

Vir die inwoners van die Sonstraalskool vir Buitengewone Onderwys, skep dié paaie wat meer gat as pad is ’n groot probleem. Van die inwoners is gestrem, maar hul moet daagliks stap vir oefening wat ’n belangrike deel van hul roetine is.

“Van ons inwoners stap Sondae daarlangs na die Koinonia-gemeente. Dit is die kortste roete om te loop vir die wat moeilik stap en of dié in rolstoele. Dit gebeur ongelukkig gereeld dat hulle hulself nerfaf val as gevolg van die gate in die pad!” het Hantie van Aardt, hoof van die skool aan Die Pos vertel.

Volgens wyksraadslid Wiets Botes is dié deel wat se paaie in so swak toestand is, op die lys vir die volgende paaie wat deur die Limpopo-padagentskap herstel (RAL) sal word.

“Ons wag om te hoor wanneer hulle weer in ons dorp aan die paaie gaan werk. Dit is hopelik binnekort,” het Botes gesê.

RAL het verlede jaar R19 m bewillig om paaie in die dorp te herstel. Limpopostraat, wat bykans onbegaanbaar was, is herstel, asook Maroelastraat wat gevaarlike diep slaggate gehad het. RAL het nie net die slaggate herstel nie, maar die paaie se oppervlakte verwyder en oorgeteer om die probleem op die langtermyn op te los. Talle slaggate wat deur inwoners self reggemaak word, spoel ongelukkig weer oop na ’n reënbui.

“Die munisipaliteit herstel paaie waar hulle kan en wanneer fondse beskikbaar is. In Boshoffstraat, waar ’n lekkende pyp ’n groot slaggat veroorsaak het, is die pad gelukkig onlangs herstel,” het Botes gesê.

Related Articles

Back to top button