Local news

Magrietjies hou mandjiedans vir fondse

Die Magrietjies Kankerhulpgroep in Mookgophong beplan om op Vrydag, 9 Februarie om 18:00 ’n gesellige mandjiedans in die skoolsaal van Laerskool Eugene N Marais te hou om fondse in te samel vir die volhoubare versorging van kankerpasiënte.

“Inwoners van die dorp weet dat die Magrietjies ’n organisasie is wat uitstekende hulp en ondersteuning bied aan kankerpasiënte met hul besondere behoeftes,” het Toeks Erasmus van die Magrietjies gesê.

Die organisasie het die fondse nodig om hul dienste aan kankerpasiënte te kan volhou en moontlik uitbrei.

Heelwat kaartjies is reeds verkoop. Daar sal egter ook kaartjies beskikbaar wees by die deure tydens die funksie.

Sydney Wells sal die musiek verskaf en ‘n veiling van twee gemonteerde leeus en rugbyfoto’s van legendes sal opgeveil word.

“U word hartlik uitgenooi om hierdie funksie by te woon wat uitsluitlik aangebied word as hulp vir kankerlyers. U ondersteuning help ander,” het sy gesê.

Die Magrietjies beplan ook die druk van ‘n koffietafelboek met die kosbare verhale en staaltjies van eertydse Naboomspruit en sy mense.

Verskeie sakeondernemings het hulself al verbind met skenkings en bydraes. Inwoners het pittige staaltjies en sketse gestuur en legendes van ons voorouers is neergepen om behoue te bly vir die nageslag. Selfs leerders het interessante gebeure uit hul skoolloopbane aan die organiseerders gestuur.

Die organisasie het reeds ’n bekende persoon in taalkringe genader om die boek taalkundig te versorg en te redigeer. Talle inwoners het ook bydraes van interessante verhale gestuur vir publikasie.

Die Magrietjies maak staat op die dorp se meelewing en ondersteuning vir die mandjiedans.

Sien jul daar!

Related Articles

Back to top button