Local newsNews

Pioniervrou van die Vlakte, onthou

Nêrens op die Springbokvlakte en in die Waterberg-omgewing ken inwoners nie vir Lente (van der Merwe, Hansen) van der Walt nie. Sy is onlosmaaklik verbind aan die kontrei.

Op 88-jarige ouderdom is sy steeds ’n formidabele vrou en het sy haar ryk lewensverhaal met Die Pos gedeel. Sy is sedert Junie 1942 ’n inwoner van die omgewing.

Met trots deel sy dat sy die agtste vroue student was, wat aan Onderstepoort haar studies voltooi het. Sy was ook die eerste vroue veearts wat deur die staat aangestel is. Sy het haarself met kennis en toewyding in dié mans-gedomineerde veld gevestig.

Sy vertel tong in die kies dat die destydse dekaan van Onderstepoort onomwonde gesê het dat hy maar huiwerig is om vroue op die kampus toe te laat. Hy het later aan haar erken dat sy haar man (sic) kan staan.

Lente van der Walt is op haar gelukkigste in haar lushof van ’n tuin.

Na ’n jaar in Kaapstad het die boorling van die Springbokvlakte teruggekeer na haar heimat en die eerste veeartspraktyk geopen.

Die plaaslike boerderygemeenskap was baie dankbaar aangesien die naaste veearts destyds in Pretoria of Louis Trichardt was.

In 1959 het sy ’n immuniseringstasie tot stand gebring wat ’n reuse sprong in die vooruitgang van dieregesondheid was. Die immunisering het groot diere teen bosluis verwante siektes beskerm.

Die area wat sy bedien het, het gestrek van Thabazimbi tot Groblersdal en van Pienaarsrivier in die suide tot Naboomspruit (nou Mookgophong) in die noorde.

Lente is met André Hansen ’n boer van Settlers getroud en hul het twee dogters en ’n seun. Selfs in haar besige werkslewe was sy altyd deel van die kinders se skoolaktiwiteite en was sy ’n getroue ondersteuner langs die swembad en sportvelde.

Sy was vir baie jare ’n Voortrekker-offisier waar sy talle kinders aan nuwe avonture bekendgestel het en hul ’n liefde vir die natuur geleer het.

Lente deel dat in daardie dae was kommunikasie een van die groot uitdagings. Daar was nie selfone of GPS-toestelle nie. Jy het maar die plaaslike sentrale geskakel en deur die boere boodskappe gestuur na afgeleë plekke. Hier in ons eie dorp het sy tientalle kere deur die plaaslike Lisbon-kafee pakkies medisyne, spuitstof en boodskappe aan boere versprei.

In 1993 het haar seun Hendrik Hansen die praktyk oorgeneem en het sy haar aandag grootliks verskuif na hul boerdery.

Dit was ‘n uitdagende tyd, maar Lente sê sy het deur geloof en die genade van God daar deur gekom.

Met ‘n breek in haar stem vertel sy van die moeilikheid om die plaasbestuur te leer en sê: “Net die Here het my gedra, want ek het niks geweet van rondewiele en swartbloed (plaasdiesel) nie.”

Sy het in haar 60’s begin met rugsak staptogte en elke maand ’n nuwe avontuur aangepak. Sy het die uitdagende Visrivier-staproete en ook die in Namibië baie geniet. Dit was goeie tye saam met vriende in die natuur.

In 2001 is sy getroud met Hannes van der Walt, ’n bekende boer van die Vlakte en stigterslid van Walt-landgoed wat een van die grootste boerderye in die omgewing is.

Uit die verbintenis het sy Hannes se drie kinders bygekry en saam het hul die aktiwiteite en hoogtepunte van al die kinders en kleinkinders geniet. Hulle het later dorp toe verhuis na ’n sekuriteitsoord.

Haar liefde vir die natuur het verder uitgekring en sy het ’n passie ontwikkel om clivias, orgideë en Impala-lelies te kweek. Haar tuin is ’n lushof en getuig van haar ryk kennis van die fauna en flora van ons omgewing. Sy deel ook graag van haar plantjies en kort voor lank het Die Pos se joernalis ook ’n skaars rooi Impala-lelie persent gekry met voorskrifte hoe om dit te versorg.

Lente sê in die pylvak van haar lewe is sy steeds verbind tot die gemeenskap en spits sy haar toe op kerksake, want haar geloof is van kardinale belang in haar lewe.

Met ‘n skitterende glimlag kyk sy terug op ‘n ryk en vol lewe wat sy gedeel het met die mense van die Waterberg en die Springbokvlakte.

Lente van der Walt ons salueer jou!

Related Articles

Back to top button