Local newsNewsSchools

Waterbergskole bykans vol

Die skooljaar is in volle swang met die atletiekseisoen en akademiese werk reeds goed op dreef.

Plasings in skole, veral vir gr.1- en gr. 8-leerders wat by ’n nuwe skool moet aanmeld, het die afgelope paar jaar nasionaal hoofbrekens besorg, veral in digbevolkte provinsies soos Gauteng.

Plaaslik het hierdie probleem nie dieselfde krisisafmetings aangeneem as in stede waar ouers gesukkel het om hul kinders in skole geplaas te kry nie. Skoolhoofde waarmee Die Pos gepraat het, sê egter dat hul skole kapasiteit bereik het.

Louis Cilliers, die hoof van Hoërskool Warmbad, sê dat daar slegs enkele plekke beskikbaar is vir gr. 8- leerders.

“Die res van die grade is ook relatief vol. Ons het kapasiteit vir sowat 550 leerders, wanneer daar meer kinders as dit ingeneem word, beïnvloed dit klasgroottes en die beskikbaarheid van badkamers,” het hy verduidelik. “Dit is vir ons belangrik om ’n veilige omgewing vir ons leerders te skep en hou daarom by ons kapasiteit. Ons skool het nie die afgelope paar jaar in leerlingtal gegroei nie. Wat wel voordelig in groei sou wees, is ons mededinging op die sportvelde omdat daar ’n groter basis sou wees om van te kies. Ons sorg dat ons die beste doen vir elke leerder en hulle help ontwikkel om die beste te wees wat hulle kan.”

Die skool het verlede jaar ’n streng dissiplinêre stelsel geïmplementeer en van die talle moeilikheidmakers is deur die regte kanale, ontslae geraak.

In Modimolle is daar ’n behoefte aan meer skole met van die skole in Phagameng wat met tot 80 leerders in ’n klaskamer sit. Phagameng High School is in hierdie stadium die grootste skool in die distrik met meer as 2 000 leerders. Die Pos het verlede jaar berig dat grondverskuiwingswerk begin het aan die Mmaphuthi Manamela Secondary School en David Scara Kutumela Primary School wat in uitbreiding 10 van Phagameng opgerig gaan word. Die skole word langs mekaar gebou en sal sportvelde deel. Elk sal ’n kapasiteit van 900 leerders hê wat die las op omliggende skole sal verlig. Bouwerk aan die skole het egter die afgelope paar maande nie veel gevorder nie.

Volgens Anton du Plessis, hoof van Hoërskool Nylstroom, het die skool die afgelope paar jaar ’n aansienlike toename in die aantal leerders gehad.

“Ons staan tans op 950 leerders, met 50 na ’n 100 leerders wat die afgelope vyf jaar elke jaar bygekom het. Die skool se getal leerders het op 580 gestaan toe ek hier begin het. Die fokus bly op dissipline en hoë gehalte akademie.”

Bykomende onderwysposte is aan die skool toegeken en die skool, met sy groot terrein, is steeds binne kapasiteit. Klasse het wisselende groottes en kan nie almal dieselfde aantal leerders huisves, volgens Du Plessis, maar die leerdertalle is só dat kwaliteit onderwys gelewer kan word.

Hoërskool Hans Strijdom staan op 650 leerders waarvan 120 gr. 8’s is. Volgens Rinus de Jager, skoolhoof, is daar enkele plekke beskikbaar in hierdie Afrikaans-medium skool.

“Dit is vir ons baie belangrik om kwaliteit onderrig te gee en daarom wil ons die klasgroottes beheer. Dit hang ook af van die beskikbare personeel wat ons het,” het hy verduidelik.

Luidens berigte het die Gautengse departement van onderwys in ’n enkele dag meer as 6 000 laat aansoeke ontvang. Ook die Wes-Kaapse onderwysdepartement het laat hoor dat hulle talle laat aansoeke ontvang het en verwag dat nog meer gaan instroom.

Die Pos het navrae aan die Limpopo departement van onderwys se woordvoerder gerig rakende die situasie in die Waterberg asook vordering met die nuwe skole wat gebou word, maar het teen spertyd geen inligting ontvang nie.

Related Articles

Back to top button