Local newsMunicipalNews

Rekeninge binnekort op datum

Probleme met munisipale rekeninge behoort hopelik binnekort iets van die verlede te wees.

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het inwoners in kennis gestel dat hulle weens probleme tydens die oorskakeling van een diensverskaffer na ’n ander, die ondertekening van ’n diensvlakooreenkoms en die oordrag van data na ’n nuwe stelsel, uitdagings gehad het met die uitreik van rekeninge in Oktober en November verlede jaar.

Die munisipaliteit verwag dat die rekeninge teen die einde van Januarie op datum behoort te wees. Die maatskappy CigiCell is weer aangestel en hanteer die verkope van voorafbetaalde elektrisiteit sedert 1 Oktober.

CigiCell is in 2015 ook deur die munisipaliteit aangestel vir dié taak. In ’n tyd wat die munisipaliteit in ’n groot finansiële verknorsing was, het die nasionale tesourie Fundudzi Forensiese Dienste in Junie 2018 aangestel om ’n forensiese ondersoek na die wankelende munisipaliteit se geldsake te doen. Die verslag, wat in September van daardie jaar bekend gemaak is, het meer as 500 verdagte transaksies uitgewys en het ook gekyk na van die diensverskaffers wat deur die munisipaliteit aangestel is.

Een van die aanbevelings was dat kriminele klagtes van bedrog en/of diefstal teen CigiCell aanhanging gemaak moet word. In die verslag is beweer dat die maatskappy 10% kommissie van verkope afgetrek het in plaas van die 5,5% waarop ooreengekom is.

Die Pos het in September 2019 berig dat die maatskappy se woordvoerder gesê het dat ’n oop tender in 2015 aan CigiCell toegeken is met ’n kommissiestruktuur van 10%. ’n Vorige diensverskaffer is hof toe om hul aanstelling teen te staan en het sy saak in Augustus 2017 gewen, waarna CigiCell se dienste beëindig is.

Die maatskappy het egter voortgegaan om op ’n maand-tot-maand grondslag dienste te lewer en die munisipaliteit het hulle weer in Desember 2017 formeel aangestel. Daar is volgens die woordvoerder nooit ’n diensvlakooreenkoms met CigiCell aangegaan nie.

Die Pos het ’n navraag aan die burgemeester, Sechele Sebolai, gerig.

“Ek is besig om weer deur die raadsbesluite van daardie tyd te werk, asook die forensiese verslag. Ons het die aanstelling van CigiCell deeglik in die raad deurtrap voordat ons dit goedgekeur het. Ná daardie forensiese verslag is klagtes teen verskeie amptenare gemaak en baie van hulle is weg. Die blaam blyk voor die deur van die amptenare te gewees het en nie die maatskappy nie,” het hy gesê.

“Ons wil graag hoofbrekens wat ons met vorige diensverskaffers beleef het, vermy. Die raad moet sy oorsigrol ernstig opneem en fyn dophou dat ons nie weer in dieselfde situasies beland nie. As CigiCell steeds geld aan ons skuld, sal ons dit van hulle verhaal,” het Sebolai gesê.

Related Articles

Back to top button