CrimeLocal news

Koperdiewe knou dorp

Talle sakeondernemings in Bela-Bela het gedurende die feesgety deurgeloop onder die hande van koperdiewe. Hulle het infrastruktuur geplunder vir koperkabels, -pype en -krane.

Die Procor-gebou in Minnaarstraat, waarin Die Pos geleë is, was een van die persele wat deurgeloop het. Die vermeende diewe het kort ná Kersfees alle oorblywende koperpype om die gebou gestroop. Huurders het vroeg die volgende oggend per toeval gesien hoe die water uitstroom. ’n Loodgieter se hulp is ingeroep om ’n stopkraan op die hooftoevoer van die verskeie sakeondernemings te sit, sodat hy die pype kon vervang.

Aan die einde van November het koperdiewe reeds die grootste gedeelte van Die Pos se toevoerpype gestroop en het die eienaars van die gebou die pype met versterkte plastiekpype vervang.

Daar was nog ongeveer ’n meter van die oorspronklike koperpyp oor wat hul in die feesgety kom haal het.

Numeri Rekenmeesters was ook tydens die feestyd geteiken. Belinda Coetser het aan Die Pos genoem dat sy Sondag 17 Desember 2023 gesien het dat die water by die kantoorblok se erf uitstroom. Die krane en koperpype is gesteel by die Jo-Jo tenk, asook die koperdrade agter die gebou.

“Dit wil voorkom of nie eens die ge-elektrifiseerde heining hul kon stuit nie. Dit blyk dat die verdagtes ’n kombers oor die aangrensende gebou se heining gegooi het en so die perseel betree het,” sê Coetser.

Die gebou waarin die prokureurs Tonie Grobler, Angi Germishuys en Nicholas van Heerden sake doen in Mentzlaan, Bela-Bela, het ook deurgeloop. Water het bykans ’n hele dag straat-af geloop nadat boewe ook daar die krane en pype gesteel het.

Warmbad Grassnyerdienste was ook in hierdie tyd ’n slagoffer van koperdiefstal.

“Die sekuriteit het die verdagte amper op heterdaad betrap, nadat die gebou se alarms afgegaan het. Ongelukkig het die verdagte weggekom,” het Braam van der Merwe, eienaar gesê.

Morkel Booyse van Forum Makelaars.

Johan Eksteen van PSG Insure het by navraag aan Die Pos gesê dat hulle heelwat eise oor koperpype gedurende die feestyd ontvang het. Morkel Booyse van Forum Makelaars, wat self deurgeloop het, het aan Die Pos gesê dat die meeste eise wat hulle ontvang het van sakeondernemings en skole was wat tydens die feestyd gesluit was. Volgens Booyse beloop die gemiddelde eis tussen R10 000 en R15 000, omdat die pype en krane uit die mure geruk word.

“Ons vermoed dat dit mense is wat die omgewing goed ken en die geboue dop gehou het en gesien het dat daar nie beweging was nie. My raad aan sake-eienaars is om die koperpype te vervang met PolyCorp pype of ’n ander alternatief is om die koperpype te verf. Dit maak dit moeiliker vir die stropers om die pype te verkoop, aangesien dit meer moeite is om die verf af te kry en die pype kan makliker opgespoor word wanneer die diewe dit probeer verkoop.”

Hy noem ook dat dit belangrik is om ’n saak aan te meld by die polisie, veral as jy van die versekering wil eis.

Die skakelpersoon by SAPS Bela-Bela het bevestig dat verskeie sake van koperdiefstal geopen is en hul ondersoek die sake.

Related Articles

Back to top button