Local news

Plus 50 Streek/Region-tydskrif bekend gestel

Die jongste uitgawe van die tydskrif Plus 50 Streek/Region bevat artikels oor die Waterberg deur 25 skrywers en is ryklik geïllustreer met foto’s en ’n kaart en word van Vrydag 19 tot Saterdag 26 Januarie in Pretoria, Bela-Bela, Modimolle en Thabazimbi bekendgestel.

Daarin word die karakter van die streek uitgebeeld met figure wat met die streek geassosieer word, soos die natuurkenner Eugène N. Marais; die argitek Gerard Moerdyk; die afstammeling en naamgenoot van die Voortrekkerleier Louis Trichardt; die voëlkenner Warwick Tarboton; die kunstenaar, natuurbewaarder en omgewingsopvoeder Clive Walker; die skrywer van die grootse Waterberg echoes (2019), Richard Wadley; en die konfytmaker Ina Lessing.

Bekende akademici en skrywers neem deel aan die publikasie, soos Flip Smit, Lucie Möller, Ilse van Staden, Johann Lodewyk Marais, Ruvé Benadie, Mart Cilliers, Herman van Niekerk, Warwick en Michèle Tarboton, Celia Becker, Estelle Pretorius, Frik de Jager, Annette Wagner, Graeme Polson (sr.), Sas Kloppers, Theo de Jager, Heinrich Schulze, Erika Lemmer, Karel Prinsloo, Hardus Steenekamp, Alwyn Roux, Mart Cilliers, Amanda de Meillon, Charmaine Lourens en Lourens Bosman.

Die streek is ’n belangrike landbougebied met geleenthede vir sowel groot- as kleinboere, terwyl minerale soos yster, tin en steenkool tot die gevestigde ekonomie bydra. Dit bied ’n besige deurpad as lewensaar na en van buurlande.

Die Waterberg se savanne en plato met sy eie fauna en flora en Bosveldatmosfeer, natuurreservate en ander bewaringsgebiede, voëlkykgeleenthede en gholfbane is ’n voorkeurbestemming vir besoekers en is naby Pretoria en die Witwatersrand. Goeie aftree-fasiliteite en maklik bereikbare mediese sorg is beskikbaar.

Die tydskrif word by onderskeidelik die Lynnwood NG Kerk se kerksaal (Vrydag 19 Januarie), Negester Klein-Kariba se gemeenskapsaal (Maandag 22 Januarie), Kokanje-aftreeoord se gemeenskapsaal (Woensdag 24 Januarie) en die Thabazimbi NG Kerk se kerksaal (Vrydag 26 Januarie) aangebied. Sprekers soos Karel Prinsloo, Karus Prinsloo, Fransjohan Pretorius, Johann Lodewyk Marais, Graeme Polson, Mauritz Hansen, Erika Lemmer en Louis Trichardt gaan optree. Byeenkomste sal van 10:00 tot 13:30 duur en ook aanbiedings deur die borge MacRobert Attorneys en Kruger Internasionaal insluit. Verversings sal beskikbaar wees, asook pamflette, tydskrifte en boeke.

Die tydskrif kom uit die stal van die tweemaandelikse, tweetalige raktydskrif Plus 50, wat reeds die afgelope 20 jaar bestaan en veral op die belange van senior mense fokus. Plus 50 is deur dr. Karel Prinsloo begin en staan tans onder die redakteurskap van dr. Johan Myburg.

Onderwerpe soos avontuur en reis, voedselaangeleenthede, boerdery, kuns en kultuur, erfenis, die omgewing en ander aktualiteitskwessies kry aandag in Plus 50 Streek/Region deur middel van artikels, rubrieke, kaarte en interessante fotografie.

Die tydskrif Plus 50 Streek/Region verskyn twee keer per jaar en laat elke keer die kollig op een van Suid-Afrika se onderskeibare streke val.

Die historikus, letterkundige en skrywer dr. Johann Lodewyk Marais is die gasredakteur van Plus 50 Streek/Region. Die tydskrif word deur Plus 50 Media (Edms.) Bpk. in Lynnwood, Pretoria, uitgegee.

Vir meer besonderhede en besprekings om die verskillende geleenthede by te woon, stuur ’n e-pos aan plus50@plus50.co.za of skakel gedurende kantoorure tel. (012) 348 8708.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button