Local news

Mabalingwe staan op uit as ná brande

Drie maande ná die verwoestende brande wat in Oktober 2023 die grootste gedeelte van Mabalingwe-natuurreservaat en omliggende plase en oorde verswelg het, word die effek van die brand steeds ervaar.

Daar was destyds groot dankbaarheid dat die meeste diere die brand oorleef het en die gemeenskap soos een man laergetrek en hulp aangebied het, maar die bestuur, wildbewaarders en boere ervaar steeds die naskok van die brand. Die ekosisteem sal etlike jare neem om ten volle te herstel.

Matie Barnard, woordvoerder van Mabalingwe-tyddeel, het aan Die Pos gesê hulle is steeds nederig dankbaar vir die groot genade en welwillendheid vanuit die plaaslike gemeenskap.

Hulle het van heinde en ver skenkings van voer ontvang en kon in die weke direk ná die brand gerus wees dat die diere voldoende voeding het.

Die gebied het intussen reeds ’n bietjie welkome reën ontvang.

Van die 56 huise wat afgebrand is, was daar heelwat huise wat deur eienaars verhuur is as vakansiehuise. Hierdie eienaars het ’n reusefinansiële knou ervaar, maar volgens Barnard is herbouplanne fluks op dreef. Die afgelope feesgety was die ander akkommodasie-eenhede wat op die reservaat beskikbaar is, baie gewild en die bestuur het aangedui dat hulle ’n baie suksesvolle seisoen beleef het. Die oord se besettingsvlak het gestyg tot 90% op al die akkommodasie-eenhede.

“Die feesgety was baie goed vir ons. Besprekings vir 2024 is reeds meer as in die ooreenstemmende tyd die vorige jaar al is dit nog vroeg in die jaar. Die toekoms lyk baie goed wat toerisme betref,” het hy gesê.

Die herstel van die reservaat se veld en voeding vir die wild is ’n voortdurende proses. Hoewel daar verwag is dat die veldherstel al beter sou wees, het die gebrek aan deurdringende reën die proses vertraag.

Die baie hoë temperature en die reën wat later as gewoonlik gekom het, het ook bygedra tot die stadige herstel.

“Daar is egter reeds positiewe tekens van herstel. Die noorde het meer reën ontvang as die suide, wat ’n effens vinniger herstel aan daardie kant van die reservaat beteken. Voer word steeds gebruik om die wild se byvoeding te verseker, maar ons is optimisties dat die behoefte aan ekstra voer binnekort sal afneem.”

Barnard het gesê eienaars is besig om hul versekeringseise af te handel en daar is ’n positiewe vooruitsig vir huise wat eersdaags herbou sal word. Die verwagting is dat die herbouproses sowat drie jaar sal neem.

Die risiko van grasdakke het met dié ramp weer na vore gekom. Die versekeraars plaas baie hoë premies op grasdakke omdat die risiko so hoog is. Eienaars van huise en lodges met grasdakke ondervind ’n uitdaging met die versekering van dié geboue. Versekeringsmaatskappye is nie meer geneë om sulke strukture te dek nie en daar word verwag dat die premies van bestaande kliënte met sulke strukture in die toekoms aansienlik kan verhoog.

Vir die bestuur en werknemers van Mabalingwe is 2024 ’n jaar van heropbou, innovasie en die hantering van uitdagings. Die volgehoue samewerking van eienaars en gemeenskapslede is noodsaaklik vir die voortgesette sukses en bewaring van hierdie unieke natuurerfenis-juweel.

Related Articles

Back to top button