Local news

Bekende Mookgophong-inwoner sterf

Marianne Joubert (neé van der Walt) was nie net ‘n bekende inwoner van Mookgophong nie, maar ook die gesig van die skryfbehoefte-en boekwinkel in die dorp.

Sy is op 12 Desember onverwags in die Brits-hospitaal oorlede nadat sy ’n beroerte gehad het en die bloeding op die brein nie gekeer kon word nie.

“Die ‘biblioteek’ het toegemaak … haar stoel is leeg … ons gaan haar baie mis,” het Naomi Labuschagne, een van haar vriendinne, aan Die Pos gesê.

Die groepie vriendinne het saam gaan koek eet ter herinnering aan haar omdat sy elke Woensdag vir hulle ’n koek gebak het.

“Marianne is nou by Hom wat sy jare lank al liefhet en dien. Ons is dankbaar vir haar vriendskap. Dit wat ons kon leer deur die boeke wat sy uitgedeel het, haar liefde en lewenslesse en al die gebroke harte wat sy wou heelmaak. Ons groet haar nou met dankbaarheid omdat ons weet sy leef,” het sy gesê.

Sy was bekend vir haar kennis oor boeke en die navorsing wat sy gedoen het en veral die navorsing wat sy oor die Bybel gedoen het. Sy het altyd ’n plan gemaak om mense en kinders te help met take en projekte.

Joubert is in 1950 in Johannesburg gebore, maar die gesin het kort daarna na Sasolburg verhuis waar sy ook gematrikuleer het. Sy het ’n BA-graad in joernalistiek en tale verwerf en is in 1971 met Sakkie Joubert getroud. Die egpaar het drie kinders, Deirdré, Tjaart en Ryno.

Die gesin het in 1975 na Middelburg, Mpumulanga, verhuis. Daarna is hulle Johannesburg toe. Sy het jare lank as sekretaresse en joernalis vir Huisgenoot gewerk. Sy het in 2003 saam met haar kinders na Mookgophong verhuis waar sy 18 jaar lank die C&amp bestuur het.

Sy word oorleef deur ses kinders en skoonkinders, ses kleinkinders en een agterkleinkind wat vier dae ná haar dood gebore is.

Sy word onthou vir haar onwrikbare geloof, wyse woorde en bereidheid om altyd te help.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button