EntertainmentLifestyleLocal news

Kersvader bly steeds deel van die pret

Of ons dit so wil hê of nie, Kers­vader speel een van die hoof­rolle in die Kers­ver­haal vir die meeste kin­ders — ook in Suid-Afrika.

Ons is net ’n bietjie onver­bid­delik om die arme man te klee in daardie vuur­warm, be­dompige, bloed­rooi pak dat hy in hierdie snik­hete dae moet snak na sy asem.

In Aus­tralië by Alice Springs, waar dit op Kers­dag by die 40°C is, dra Kers­vader ’n fyn, koel baard­jie, ’n hoed met lug­gate in, ’n rooi kort­broek, rooi kort­mou­hemp en san­dale. Gawe mense, dié Austra­liërs.

Hoewel ’n don­kie­kar of ’n riksja beslis meer tra­disio­neel sou wees in Suid-Afrika, word van die arme man ver­wag om met sy slee en tak­bokke deur die stof te ploeter. Ge­lukkig maak ons in Desem­ber nie kag­gel­vuur nie, so Kers­vader kan darem veilig deur die skoor­steen glip.

Die tak­bokke en slee van Kers­vader en sy aak­lige skoor­steen­ge­woonte is blyk­baar uitge­dink deur ’n Ame­ri­kaner, Clement Clarke Moore, wat in 1822 die gedig A Visit from Saint Nicolas vir sy kin­ders ge­skryf het.

Saint Nicolas, ’n hei­lige uit die 4de eeu, het blyk­baar baie geld geërf en dit skelm vir die armes gegee. Een aand, lui die legende, het hy by die huis van drie prag­tige meisies aange­doen wie se pa al sy geld ver­loor het. Hy het ’n sakkie vol goud deur die ven­ster gegooi. Dit land toe in die kous wat een van die meisies voor die kag­gel gehang het om droog te word.

Dié ver­haal het mense aange­moe­dig om Oukers­aand kouse op te hang met die hoop dat daar iets in sal land.

Kinders glo ewe getrou in die bestaan van Kers­vader.

Die Britse pos­diens het ’n paar jaar gelede al 750 000 brie­fies ont­vang wat aan Kers­va­der gerig was. Hulle pro­beer om aan elkeen van hier­die kin­ders ’n kaar­tjie te stuur. Swede en Ys­land dring glo daar­op aan dat Kers­vader ’n burger van dié land is, terwyl Groen­land be­sluit het Kers­vader se amp­telike huis is in die dorpie Uum­man­naq.

In Enge­land is ’n wet in 1551 gemaak wat alle bur­gers dwing om op 25 Desem­ber ’n ere­diens by te woon, en wel te voet. As jy die wet — wat nog nie afge­skaf is nie — oortree, sal jou ver­voer­middel ge­kon­fis­keer word. Wonder of die spul Engelse dit ooit nog ont­hou?

’n Snaakse nasie is die Britte beslis. Op Kers­dag ’n paar jaar gelede het daar 273 Britte in die hos­pi­taal beland as gevolg van bese­rings wat hulle opge­doen het deur die kurk­proppe van vonkel­wyn­bot­tels.

Nie net die Britte is snaaks nie. In Span­je, Grieke­land, Duits­land en Italië is ’n pil beskik­baar gestel wat koop­lus tydens die Kers­tyd beperk. Dis ’n anti­depres­sant wat die mense se koop­lustig­heid glo heelte­mal demp.

Miskien moet ons ’n paar ton van daar­die pille van Kers­vader vra vir vol­gende Kers­fees.

Related Articles

Back to top button