LifestyleLocal LifestyleLocal news

Hoe vier Mookgophong se mense dié Kersfees?

Elke gesin of familie het hul eie tradisie met die viering van Kersfees. Vir sommige is dit vakansietyd, maar vir die meeste is dit ’n tyd van samesyn, lekker eet, kuier en die viering van Jesus se geboortedag. Die Pos het by ’n paar inwoners van Mookgophong gaan hoor hoe hulle Kersfees vier en wat dit vir hulle beteken.

Ilze Pieterse.

Ilze Pieterse:
Kersfees gaan vir my oor God se liefde, want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste seun gegee het. Ons as gesin vier Jesus se geboorte deur liefde te bewys. Ons het mekaar lief omdat ons God lief het. Daarom is dit lekker om as familie bymekaar te kan kom en iets spesiaals vir mekaar te doen, saam te kuier en heerlike maaltye te geniet met lekker geselskap en lekker lag. Dit is ’n groot en wonderlike gebeurtenis wat vra om gevier te word en daarom is Kersfees vir ons ’n tyd van blydskap en dankbaar te wees.

Jané Roos.

Jané Roos:
Ons Kersfees word om kos beplan. Dae voor die tyd word alles haarfyn beplan en dit wat voor die tyd voorberei kan word, word gedoen. Dan bring ons Kersdag saam met familie en vriende deur en kuier om die tafel onder die afdak en langs die swembad. Ons kom ná kerk saam en kuier tot almal se oë wil toeval. Ons gee nie regtig geskenke nie en net die klein kindertjies word bederf met ’n geskenkie. Natuurlik word die tafel mooi gedek en met ete sit ons aan en vier fees.

Helen Foster.

Helen Foster:
Ou Kersaand is dit tyd vir koek en tee. Ons familie gee koekies vir die kinders en Kerskoek met marsepeinversiering vir die ouer garde. Natuurlik kan die kinders dit nie meer uithou nie so hulle kry elkeen een geskenkie en dan so tussen die kuier deur begin ons voorberei vir ons Kersete. Elke familie bring ’n slaai, ’n vleisdis en ’n nagereg. Daar word vooraf bespreek wie bring wat.

Waldorf-slaai is ons gunsteling en dan ook ’n krakerige broodslaai, pikante pastaslaai of ’n vars mengelslaai. Soms word die slaai uitgepak om bietjie “fancy” te wees. Skaapboud, Coulotte Roast (sirloin) of salm is ons vleisgeregte en soms is dit ’n lekker wildspastei. Ons het altyd gebakte aartappels en natuurlik wyn wat by die kos pas. Die nagereg het altyd roomys en ’n Bar One-sous.

Ná ete “rol” die grootmense omtrent sitkamer toe terwyl die kinders speel en swem. Ons kuier tot laat en dan is dit huis toe.

Kobus van Loggerenberg.

Kobus van Loggerenberg:
Vir Kobus Loggies, soos hy beter bekend staan, is Kersfees soos ’n Sondag. Oukersaand braai hulle saam met familie en kuier tot laat. Ná kerk op Kersdag kom die familie bymekaar en word daar heerlik gesmul aan peuselhappies om die swembad. Dit is vir ons ’n rustige dag om net saam te eet en die feestyd saam te geniet.

Related Articles

Back to top button