LifestyleLocal LifestyleLocal newsRecipes

Rooi vir die Kerstafel is mooi

Die dek van jou tafel vir Kersfees hoef nie ’n bron van bekommernis te wees nie, want daar is werklik geen reëls nie.

Dek die tafel met liefde en in jou eie smaak. Kersfees het “duur” geword en die versierings op jou tafel hoef nie deel van die uitgawes te wees nie. Gebruik wat jy het.

Vanjaar het my bloedrooi hibiskus-plant só baldadig geblom dat ek nie anders kon as om die lieflike plant deel van my Kerstafel se versierings te maak nie. Sy rankerige takke met heldergroen blare verleen tekstuur en die blomme getuig van uitbundige plesier. Dek die tafel buite onder ’n boom of op die stoep en eet sommer vroeg voordat dit te warm is.

Die fokuspunt op my Kerstafel vir 2023 is glas en die groot glasbottel was ’n winskopie by ’n plaaslike pandjieswinkel. Die borde, servette en tafeldoek het ek ses jaar gelede vir ’n spesiale geleentheid gekoop en nou gebruik ek dit weer. Net vir die pret, en die kleur natuurlik, het ek sommer kersietamaties in die wynglase gegooi en ’n sjokoladekoekie op elke gas se bord geplaas.

Jy kan vir elkeen ’n sitplek aandui as jy wil, maar aan my tafel sit jy waar jy wil. Dit is Kersfees en ’n tyd van vreugde en vrede.

In die kleiner groen bottels uit my versameling het ek sommer vars grasuie uit my tuin gebruik. Enige vars kruie is gepas op die tafel en gaste kan dan ook sommer self daarvan gebruik om die geregte of slaai mee op te kikker.

Die voorspelling is dat dit ’n warm dag gaan wees en dit is net die regte tyd vir heerlike somerslaaie en heerlike koue gammon, skaapboud en hoender. ’n Paar borde met ’n verskeidenheid kase, beskuitjies, brucheta-broodjies, vars basilie-pesto, koue vleise en hope vars vrugte sal ook heerlik wees. Die gasvrou kry dan geleentheid om saam met familie en vriende te kuier, want dit is presies waarom ons saam eet tydens Kersfees.

Mag jou Kerstafel en Kersete een van vreugde en kleur wees en mag ons nooit vergeet dat ons Jesus se geboorte vier nie.


Heerlike Kersfeesslaai.

Kersfeesslaai

  1. Sny ses baba eiervrugte in helftes, plaas in geklitste eier en dan in meel en vlakbraai in ’n pan tot goudbruin. Gebruik olyf olie. Braai repies hoenderborsies in dieselfde pan.
  2. Pak nou baba-spinasie onder in ’n slaaibak of bord. Voeg kersietamaties, eiervrug, hoender, bloukaas, sagtekaas soos camembert of brie by. Voeg ook neute, pampoenpitte en ander gemengde sade by en rond af met rooi uie.
  3. Gebruik die slaaisous van jou keuse. Ek het bloukaas-sous gebruik.

Related Articles

Back to top button