LifestyleLocal LifestyleLocal news

Feestyd is hier!

Kersfees wink en voor ons ons oë uitvee, lui die klokke om die begin van ’n splinternuwe jaar aan te kondig.

Hierdie jaar, 2023, het talle hekkies gehad waaroor gespring moes word. Ondanks damme wat genoeg water het, het die kragprobleme, infrastruktuur wat nie onderhou is nie en erge waterbeperkings vir droë krane gesorg en inwoners van die Waterberg rooi laat sien.

Beurtkrag het veroorsaak dat baie sakeondernemings hul deure moes sluit en dit was veral hartseer om te sien of te hoor dat klein familie-ondernemings, wat geslagte al sake doen op die platteland, handdoek ingooi. Dit het werkloosheid en ook armoede teweeg gebring.

ADVERTENSIE

Die jaar sal ook onthou word vir die erge brande wat die Mabalingwe-natuurreservaat, ander oorde en kleinhoewes in die Bela-Bela-omgewing lam gelê het.

Plase in Modimolle en Mookgophong-omgewing het ook onder vlamme deurgeloop en groot skade is aan lodges in die omgewing aangerig. Die gemeenskap het soos een man hande gevat om die vlammesee te beveg en die hele land kon die treurspel op Die Pos se gewilde Facebookblad volg.

Einde Oktober brand ander vure, die van vreugde, nadat die Springbokke die Webb Ellis-trofee vir die vierde keer gelig het. Die Bokke het Suid-Afrikaners week na week laat naels kou met hul een punt-oorwinnings in die Wêreldbeker in Frankryk.

In 2024 sal ons almal die geleentheid kry om kruisies te trek by die stembusse en dié verkiesing sal waarskynlik die grootste nóg in die land se geskiedenis wees.

Dit is egter nou eers tyd om die feesgety saam met geliefdes te geniet. Die Pos se personeel skop dus nou ook hul skoene uit. Ons sê dankie vir al ons getroue kliënte en lesers. Die Pos is steeds die kleintjie met die groot hart.

Ons verwelkom ook al die vakansiegangers in die Waterberg en dink aan diegene wat in die feesgety diens moet doen in hospitale of wet en orde moet handhaaf.

Die Pos se deure maak op Maandag 8 Januarie 2024 oop en dan is ons slaggereed om die gemeenskap ingelig te hou met vars koerant- en aanlynnuus.

Geniet ’n ware Christusfees op Kersdag en mag 2024 vir ons almal goedheid en guns bring.

Related Articles

Back to top button