LifestyleLocal LifestyleLocal news

Fotografieklub word mondig

Sal ’n mens ’n groep fotograwe ’n “kliek” noem? 

Die Bosveld-fotografieklub in Modimolle vier hul mondigwording nadat die klub in 2003 gestig is. Hulle het tans 26 deelnemende lede wat maandeliks die treffendste beelde met hul kameras vasvang en instuur vir beoordeling.

Die groep kom elke derde Dinsdagaand van die maand aanlyn byeen en hul lede is wyd verspreid: van die Kokanje-aftreeoord, Koro Creek-gholflandgoed, Modimolle, Negester Leefstyloord, Bela-Bela, op plase in die Waterberg, Pretoria, Witrivier en selfs twee lede uit Zambië.

Lelanie van der Walt het die wenfoto in die junior kategorie gewen met hierdie pragtige foto, getiteld: “Playtime”.

“Omdat al ons klubbyeenkomste aanlynvergaderings en -kompetisies is, kan lede die geleenthede in die gerief van hul eie wonings bywoon. Lede kan vyf foto’s per maand inskryf waarvan een foto ’n vasgestelde maandelikse onderwerp is,” het Lizelle Koch van die klub verduidelik.

Die klub streef daarna om deursigtig te wees en maak van beoordelaars gebruik wat deur Photographic Society of South Africa (PSSA) goedgekeur is.

Die klub is geaffilieer by PSSA wat beteken dat hulle lede ook vir salonne kan inskryf. Salonne is nasionale foto-kompetisies wat deur geaffilieerde klubs se bestuur gereël word. Lede kan ongeveer drie tot vier keer per maand aan hierdie kompetisies deelneem.

Hierdie nasionale kompetisies en klubkompetisies stel lede in staat om te verbeter en groei as fotograwe. Die klub spog tans met vyf junior fotograwe, 13 senior fotograwe en agt meesterfotograwe.

Die klub verkeer graag gesellig saam en gedurende sulke geleenthede deel hulle hul fotografiese kennis met mekaar.

Die bestuurspan vir 2024 is op Saterdag 2 Desember verkies en bestaan uit vyf lede: Ancia du Plessis (voorsitter), Lizelle Koch (redakteur), Flick Lötter (tesourier), Antoinette Hyman (sekretaresse) en Roelof Groesbeek is verantwoordelik vir uitstappies en fotografiese opleidingsessies.

Van die uitstappies waarop die klub reeds was, sluit in besoeke aan Aloe Farm naby Hartbeespoort waar hulle na hartelus voëls en insekte op die pragtige aalwynblomme kon afneem, die Rietvlei-dam naby Irene en ’n kamp buite Modimolle waar lede om ’n knetterende Bosveld-vuur vergader het. Tydens dié geleenthede kon lede stillewes afneem met die tegniek “verf-met-lig”.

Dit is ’n tegniek waar jy ’n stillewetoneel met ’n stadige sluiterspoed afneem en terselfdertyd met ’n sagte flits oor die “onderwerp” met jou lig “verf”.

Tydens die afsluitingsgeleentheid wat op Saterdag 2 Desember gehou is, is klublede wat presteer het vereer. Toekennings is deur Francois Venter, streekdirekteur Noord-Gauteng en Limpopo van die PSSA en Warwick Tarboton oorhandig.

Spesiale toekennings is toegeken aan:

  • Hennie Louw vir DPSSA (Cls), Lourens Durand DPSSA (Cls) en Roelof Groesbeek het die senior foto van die jaar PSSA verower.
  • Die beste senior foto van die jaar (gekies uit 777 inskrywings) was Lizelle Koch in kategorie natuur (kleur) met haar foto “So in love”.
  • Die beste junior foto van die jaar (gekies uit 777 inskrywings) is geneem deur Lelanie van der Walt in die kategorie (oop: monochroom) met haar foto: “Playtime”.
  • Die fotograaf van die jaar in die senior-afdeling is Hennie Louw met Lourens Durand as die naaswenner. JR Coetzer is aangewys as junior fotograaf van die jaar met  Flick Lötter in die tweede plek.
  • Ander toekennings sluit in beste vordering in verskeie klasse aan Anneke Rautenbach, Willie Swanepoel, J R Coetzer, Cobus Potgieter, Ancia du Plessis, Lizelle Koch, Hennie Louw en Mich Veldman.
  • Lourens Durand en Ancia du Plessis ontvang die toekenning vir tema (outeur) van die jaar.
  • JR Coetzer ontvang die toekenning vir die meeste goue toekennings (meriete ingesluit) vir juniors, met Ancia du Plessis wat wen in die seniorkategorie en Hennie Louw in die meesterskategorie. Hennie Louw samel die meeste salonpunte in met Lourens Durand tweede en Lizelle Koch derde.

Related Articles

Back to top button