Local news

Die einde van ’n mooi reis

“Dié tannie werk nie meer by die koerant nie. Haar kantoor is ontruim,” glimlag jy net half droewig.

Noord-Transvaal. Verre Noord — deesdae Limpopo genoem — is my komvandaanplek.

Die treklorrie het as kind só baie kere voor ons huis gestaan, dat ek nie altyd presies seker was waar my wortels lê nie. Dit is dalk iewers op die walle van die Limpoporivier by die Botswana-grens. Of by Laerskool Alldays met sy groot kremetartboom en drinkfontein op die speelgrond waar ek as 6-jarige koshuiskind my groen maroelas in ’n stoelkas weggesteek het. ’n Stukkie van my lê ook aan die voet van die Soutpansberg in die dorpie Louis Trichardt waar die vroue kwetterend in bont, tradisionele gewade al wiegend die grondpaaie afstap met emmers vol water of avokadopere op hul koppe.

’n Stukkie van my is in die ou tuisland Gazankulu met Tzaneen as naaste groot dorp en Houtbosdorp se diepgroen plantasies en blinkskoon watervalle. ’n Deel het ook in die ou Pietersburg (deesdae Polokwane) agtergebly waar ek soggens en smiddae, in wind en weer, my dikwielfiets met die rooi blomme op die bande en draadmandjie voorop teen Hospitaalstraat se bult uitgebeur het.

As jong bruid het ek vol sterre in die oë agter die liefde aan Warmbad (deesdae Bela-Bela) toe verhuis. Dit sou net tydelik wees, het ek myself destyds getroos, want behalwe vir die knalrooi flambojantbome wat een keer per jaar die dorp tooi, was die plek nie vir my “mooi” nie. Ek het die Limpopovallei se anabome gemis. Louis Trichardt se motreën en saagmeuelens. Gazankulu se stofstrate en gemoedelike mense. Houtbosdorp se malsheid.

Die Waterberg is hárde beeswêreld. Veilingswêreld. Boerderyplek. Die wêreld waarin die een wat ek liefhet wou wees.

Die eerste jaar het ek omgehuil. Ek het myself by Die Pos-koerant as verslaggewer gaan aanmeld en jare lank tussen Warmbad en Nylstroom gependel om nuus in te samel.
In die tweede jaar het ons ’n klein meenthuis gekoop en ses roosbome in die voortuin geplant. In die sewende jaar het ek die mure van een van die kamers in ons nuwe grasdakhuis ligpers geverf en ’n bondeltjie mens in haar wiegie neergelê. Die volgende jaar was daar twéé bedjies in die pers kamer en die jaar daarna het ons die kamer langsaan ligblou geverf.

Vanjaar is ek 28 jaar in Bela-Bela. Die plek waar ek nie destyds wou nesskop nie, maar waar my hart intussen bedaar het.

Deesdae wip ek my effens as mense van die “voorwêreld” nie weet dat Warmbad jare lank al Bela-Bela is nie. Nylstroom is Modimolle. Naboomspruit is Mookgophong. Potgietersrus is Mokopane. Voor my oë het hierdie dorpe ’n lieflike generasie innoverende jongmense grootgemaak wat blinkoog wag om die grootmenslewe te betree.

Die eerste indrukke van dié dorpe is steeds nie iets wat ’n mens juis liries na die pen sal laat gryp nie. Jy sukkel aanvanklik om by die ingange van die dorpe verby verwaarloosde begraafplase, armoede en vaalheid te kyk.

Maar dan, op ’n dag, vee jy jou oë uit en die flambojantlanings en malse trosse bont bougainvilleas is oral om jou. Die bruidjies-van-die-Bosveld staan wit in die blom en goudgeel sonneblomme tooi die Springbokvlakte.

Jy stap straat-af en die bedelaarseuntjie groet jou vriendelik met: “Goeiemôre, tannie van die koerant!”

“Dié tannie werk nie meer by die koerant nie,” wil jy hom inlig. Haar kantoor is ontruim. Haar rekenaar skoongevee. Iemand anders neem nou die leisels. Haar kar staan nie meer soggens langs die gebou in Minnaarstraat nie.

Maar jy sê dit nie. Jy glimlag net half droewig. ’n Mens kyk anders na plattelandse dorpies se bedelaars, winkelvensters, advertensies op lamppale, munisipale geboue … sommer alles … as jy 28 jaar hier gewoon en gewerk het. En as jou grootmenskinders steeds van “huis toe” praat as hulle hierheen kom.

Ek het ’n groot dankbaarheid in my hart teenoor elkeen wat hierdie 28 jaar by Die Pos-koerant vir my ingekleur het. Ek is nog hier in die kontrei, maar nie meer by die
koerant betrokke nie.

Dit was ’n lieflike reis. Dankie aan almal wat dit kosbaar gemaak het.

  • Dankie, Keina Swart. Jy los diep spore en sal altyd deel van Die Pos-familie wees.
    Geniet jou aftrede. Ons gaan jou hier mis. — Charmaine Lourens, eienaar en redakteur van Die Pos.

Related Articles

Back to top button