Local news

Daar’s ’n apie op ’n stokkie …

In Leopard’s Rock, net buite Bela-Bela, waar die wildernis sinoniem met vryheid is, vind ’n mens die Bambelela-sentrum met hul naam wat “vashou” in Zoeloe beteken.

Hierdie organisasie is ’n oase van hoop vir die blou ape in die sorg van hierdie toegewyde span onder die leiding van Silke Von Eynern, stigter van Bambelela Wildlife Care Centre en Belinda Havenga, bestuurder van die primaat-afdeling.

Vir Bambelela is die drie R’e, “rescue, rehabilitate en release” nie bloot woorde nie, maar ’n lewensfilosofie wat die beskerming en voortbestaan van blou ape verseker. Bambelela fokus op vier belangrike fases om die ape uiteindelik weer in die natuur te hervestig.

Die eerste fase fokus op die sorg van wees-apies. Hierdie kwesbare kleintjies word dikwels in die veld gevind nadat hul ma’s dood is. Bambelela probeer om elke baba eers by wyfies wat ’n baba verloor het, te plaas sodat daar ’n natuurlike sorgverhouding kan ontstaan. Indien dit nie moontlik is nie, word die babas met die hand grootgemaak. Hierdie fase vereis intense sorg en aandag met babas wat elke 10-15 minute gevoed moet word.

Die kleuterskool, fase twee, betrek vier surrogaat-mammas wat die vier maande oue babas leer om hul natuurlike vaardighede wat nodig is vir oorlewing in die wildernis, in te skerp. “Hier leer die blou ape vaardighede wat ’n mens hulle nie kan leer nie,” sê Havenga.

Ná sowat ’n jaar word die ape na die pre-rehabilitasiefase oorgeplaas. Daar leer hulle om ’n trop te vorm. Dit dien as ’n evaluasie om te sien of hul gereed is om in die natuur te kan funksioneer.

Die laaste fase van die rehabilitasieproses is wanneer die ape as ’n onafhanklike trop funksioneer. Gedurende hierdie fase, wat drie jaar kan duur, is daar minder interaksie met mense sodat hulle hul natuurlike instinkte kan ontwikkel. Die trop moet leer om saam te werk en mekaar te beskerm met ’n sterk klem op minimale menslike interaksie.

Havenga noem dat dit belangrik is dat daar in hierdie fase ’n paar pienk gesiggies gebore word. Dit leer die trop om te beskerm en vorm ’n eenheid. Die algehele rehabilitasieproses kan tot vyf jaar duur.

Bambelela huisves tans 28 blou ape en vier babas in die rehabilitasiehokke. In geheel huisves Bambelela 275 blou ape en hulle het reeds 29 suksesvolle vrylatings gehad.

Ongelukkig kan al die ape nie hervestig word nie weens beserings wat in die meeste gevalle aan die hand van wrede mense gebeur het. Van die ape is mishandel of geskiet. Dan is daar die “golden oldies” wat jare lank as troeteldiere aangehou is. Hulle slagtande is getrek en die mannetjies is gekastreer.

“Mense dink dat dit die ape rustiger maak, maar ’n blou aap bly ’n wilde dier en hoort in die natuur. Hulle is nie troeteldiere nie,” sê Havenga.

Die hartseer verhale van AA, Aapstert, Flippie, Precious, en Lady-Bella getuig van die wreedheid waaraan sommige van hierdie diere blootgestel was.

AA is gedwing om alkohol te drink totdat hy verslaaf was en daar is letsels op hom wat wys dat sigarette op hom gedoof is. Aapstert kry epileptiese aanvalle omdat hy as troeteldier aangehou is en as baba van ’n tafel geval en sy kop beseer het. Flippie kry epileptiese aanvalle omdat iemand hom met ’n windbuks geskiet het en hy breinskade opgedoen het. Precious is wees gelaat en erg geslaan nadat haar ma vermoor is. Daarna is sy vir R300 in ’n troeteldierwinkel verkoop voordat sy haar tuiste by Bambelela gevind het. Precious is byna heeltemal blind. Lady-Bella is in Mokopane gered deur amptenare van natuurbewaring wat ’n padblokkade gehou het. Sy is in ’n hok in die motor gevind. Haar sig is swak weens beserings wat sy opgedoen het.

Havenga doen ’n beroep op plaasboere om nie blou ape wat pla, te skiet nie, maar eerder Bambelela te kontak vir raad. Daar is altyd ’n beter oplossing as om hulle dood te maak. Die organisasie het ’n missie om nie net die ape te red nie, maar ook om bewusmaking te bevorder oor die bewaring en nut van hierdie spesiale diere in die ekosisteem.

Bambelela is grootliks afhanklik van donasies om hul deure oop te hou. Hulle hou gereeld fondsinsamelingsprojekte en genereer inkomste deur die verhuring van chalets vir naweekverblyf. Die “Guardian Angelship” -projek bied die publiek die geleentheid om ’n apie aan te neem en maandeliks ’n bedrag vir hul gekose apie-kind te skenk.

Bambelela bied ook privaat toere aan. Bespreek gerus ’n begeleide toer en leer meer oor hierdie spesie wat mense al eeue lank fassineer.

Mense wat belangstel om deel van die projek te word, skenkings te gee of ’n begeleide toer wil bespreek, kan Belinda Havenga bel by tel. 071 360 2113.

Related Articles

Back to top button