Local news

Skat van landbou-geskiedenis oopgesluit

In die hartjie van Settlers, reg oorkant die poskantoor, lê ’n verborge skat van landbou-geskiedenis — die Settlers Agri-museum.

Hierdie kulturele erfenis het sy oorsprong in ’n gebeurtenis in 2002 toe Hannes van Heerden, asook Robbie en Craig Weir ’n rekordbrekende 400-trekkertoer op Sandstone bygewoon het.

Hierdie indrukwekkende byeenkoms het die vonk aangesteek vir ’n gemeenskap om ’n museum te stig wat die ryk landbougeskiedenis van die streek herdenk.

Die lede van die museum het nie lank gewag nie en in 2003 begin werk aan die projek. Gerrit Fourie se plaas het as die oorspronklike basis gedien waar ou trekkers en plaasimplemente sorgvuldig herstel is. In 2010 het die museum sy permanente tuiste op die gronde van die landbouvereniging gevind en sy deure vir die publiek geopen.

’n Groot versameling geskiedkundige trekkers, word in die museum gehuisves.

Die Settlers Agri-museum is ’n ware skatkis van landbou-artefakte. Die oudste trekker in die museum is ’n Case-model van 1929 wat ook die prys vir die oorspronklikste trekker by die Working 400 gewen het. Met meer as 34 trekkers, ’n 1942 Chevrolet-trok en ’n groot verskeidenheid geskiedkundige plaasimplemente bied die museum ’n unieke blik op die evolusie van landboutoerusting.

Daarnaas huisves die terrein nie net die Agri-museum nie, maar ook ’n pragtige kerk wat in 1962 deur die NG Kerk se sendingkommissie opgerig is. Die kerk is op die plaas Berlyn en is later met toestemming na die terrein net agter die Agri-museum verskuif. Hierdie kerk, liefdevol bekend as “die kerkie”, dien as ’n museum vir huishoudelike items met ’n indrukwekkende versameling naaldwerkmasjiene van die 1800’s tot vandag. Daar is ook ’n versameling miniatuurmodeltrekkers op uitstalling.

Die kerkie is in 1962 opgerig deur die NG Kerk se Springbokvlakte-sending-kommissie.

Die Settlers Agri-museum is ’n instelling en gemeenskapsprojek. Dit is afhanklik van donasies om sy deure oop te hou en om die voertuie en implemente te restoureer. Die werkswinkel wat voorheen op Gerrit Fourie se plaas was, is nou agter die museum geleë waar die herstelwerk voortduur.

Die museum is op Woensdae oop vir besoekers. Tydens die Desember-vakansie kan privaat toere gereël word vir besoekers. Vir navrae en afsprake gedurende hierdie tydperk bel vir Hannes van Heerden by tel. 082 652 2885 of Jan van Blerk by tel. 082 770 5557.

Die Settlers Agri-museum is ’n bewaarplek vir landbougeskiedenis en ook ’n viering van die gemeenskap se toewyding aan sy ryk erfenis. Hierdie unieke plek bied ’n insiggewende blik op die verlede terwyl dit ook ’n brug bou na die toekoms van Settlers se landbou-erfenis.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button