Home & GardenLifestyleLocal news

Leë sake-erf word ’n groentetuin

Daar waar eens net papiere en glasbottels gelê het, staan die spinasie en kool nou groen en welig.

’n Jong sakevrou en gemeenskapsaktivis van Modimolle, Mikayla Botes, het met die hulp van werknemers ’n deel van ’n leë erf wat langs hul onderneming geleë is, omskep in ’n groentetuin. Die erf is in Kuschkestraat, tussen die hoofstraat en die rivier wat deur die dorp loop.

“Ek het nog altyd van die idee gehou dat daar tuine met groente en vrugte tussen ondernemings en woonhuise gevestig word sodat diegene wat honger is hulself kan help. Hierdie leë erf het vir ons baie probleme geskep en ons moes elke oggend kom skoonmaak. Prostitute en ander ongure karakters in die omgewing het hul sake snags van hier bedryf en die bosse het dit onveilig gemaak. Ons het gedink ’n groentetuin is ’n beter opsie.”

Die erf spog met goeie grond en hulle het beesmis van die plaas af ingery. Daar is boontjies, beet, spinasie, aarbeie, frambose, uie, kool, ertjies, rissies, papaja- en avokadopeerbome geplant.

“Die eerste boontjies is al reg om geoes te word,” het sy gesê.

“Joel Maluleka het die groenste vingers in die dorp en kan enigiets laat groei. Dit is sy harde werk wat hierdie tuin so laat floreer,” het sy vertel.

Nog mense het aangebied om te help.

“Die idee is dat mense kan kom pluk wat hulle nodig het. Hulle moet asseblief nie die tuin plunder nie.”

Die plante is van saad af gekweek en sommige van groente wat ons by die huis gebruik het en die saad geoes is.”

Botes-hulle het ook van die plantjies by die beddings by die poskantoor geplant, maar dit is binne enkele ure gesteel.

“Ons wil graag ’n kultuur kweek dat mense besef dat hulle vir hulself kan kos plant. Hierdie is ook ’n manier om terug te gee aan die gemeenskap,” het Mikayla se pa, Wiets, gesê.

Mikayla het gesê sy hoop om die tuin uit te brei en die res van die leë erf ook vol te plant.

Diegene wat betrokke wil raak, kan haar bel by tel. 083 225 0728.

Related Articles

Back to top button