LifestyleLocal newsRecipes

Kom ons eet vrugtekoek

Wanneer Kersfees nader kruip is dit tyd om seker te maak dat jy ’n heerlike vrugtekoek in die yskas het, want dit is vrugtekoektyd.

Die Pos het by twee bakkers in Mookgophong gaan hoor wat hul geheime vir die beste vrugtekoek is.

Thelma Coetzer van Gholfpark bak reeds sedert 2008 elke jaar vrugtekoek.

Thelma Coetzer met die vrugtekoeke wat reeds versier is en net afgelewer moet word.

“Ek het eers klein begin met 20 koeke en elke jaar het dit net vermeerder. Ek het al 420 koeke in ’n seisoen gebak,” het sy vertel.

Sy begin reeds Augustus bak en bak gewoonlik so 30 per week. Een van haar wenke is beslis dat die koek ’n paar weke moet staan om “ryp” te word. Volgens haar vries die koeke baie goed en kan dit selfs tot ’n jaar in die vrieskas gebêre word.

“Ek bak my vrugtekoeke met gehalte vrugte, botter, amandels en kersies. Een van die belangrikste komponente is natuurlik goeie gehalte brandewyn,” het sy met ’n skalkse glimlag gesê.

Sy gebruik ’n ou familieresep wat aangepas is tot die perfekte, heerlike klam vrugtekoek wat sy tans bak.

Die bakkery is haar passie en elke jaar as sy ses koeke op ’n slag uit die oond haal, wonder sy wie daaraan gaan smul.

Gerrie du Preez het vanjaar ’n bietjie verander aan sy vrugtemengsel en sê die vye gee dit ’n heerlike smaak.

Gerrie du Preez is ’n ou hand met die bak van vrugtekoek. Hy sê die afgelope 20 jaar is hy van Augustus af besig met voorbereiding vir sy heerlike vrugtekoeke. Sy mikpunt is om vanjaar weer ongeveer 200 koeke te bak.

“Ek begin reeds in Augustus bak. Die vrugtemengsels het heelwat verander die afgelope paar jaar, maar dit noop ’n mens om ’n bietjie te skaaf en die resep ’n bietjie aan te pas om dieselfde heerlike vrugtekoek te lewer,” het hy gesê.

Hy deel sy resep in drie afdelings: vrugtemengsel, droë bestanddele en die botter, suiker en eiers. Gerrie het vir ’n tyd lank gesukkel om dadels en gerasperde lemoenskil in die hande te kry. Hy hou daarvan dat die vrugte nie te groot stukke is nie. Hy voeg geen neute in sy mengsel nie.

“As die neute nie vars is nie, belemmer dit die hele koek se smaak,” het hy gesê.

Vir sy resep gebruik hy die vrugtemengsel, gesnipperde dadels, rooi- en groen kersies, lemoenskil en makataankonfytstukke.

Hy het vanjaar heelvye by ’n vriendin gekry wat ook in die koeke is en dit gee ’n heerlike smaak. Die mengsel wat hy oorgooi vir “klammigheid” bestaan uit sjerrie, brandewyn en ’n soetwyn. Die helfte van die vrugtemengsel lê dan vir ’n week in die vloeistof. Die res word agter oorgegooi.

“Jou panne moet ordentlik gevoer wees met goeie waspapier en die oond se temperatuur moet konstant wees. Die koeke weeg ongeveer 2 kg en bak vir ongeveer vyf ure,” was sy goeie raad.

Related Articles

Back to top button