Local news

Waterbergers se woorde vloei vlot

Die skrywersgroep Ink Skryf in Afrikaans se jaarlikse gala-aand het weer met groot glans en luister in Pretoria plaasgevind.

Dié groep, wat jaarliks groei in gewildheid en status, is die breinkind van digter Anzé Bezuidenhout van Modimolle. Ink is ’n onafhanklike webwerf wat ’n tuiste bied vir skrywers wat die ontwikkeling van Afrikaanse poësie en kortverhaalkuns wil bevorder. ’n Paneel gerekende, onafhanklike beoordelaars kies jaarliks die wenners.

Inskrywings van regoor die land het ingestroom met talentvolle digters en skrywers uit eie bodem wat nie ’n enkele tree teruggestaan het vir die kompetisie nie.

Anne-Marie Kotzee.

Digter en prokureur van Modimolle, Anne-Marie Kotzee, se gedig “Sondevloed” het haar ’n tweedeplek in die digkompetisie se volwasse afdeling besorg. Kotzee het verlede jaar ook ’n tweede plek behaal en haar gedig “Besembos” was deel van ’n uitstalling van die Groen Galery van die Afrikaanse Taal Monument in die Paarl.

“Die geleentheid was soos elke jaar ’n groot sukses en skrywers van alle ouderdomme het dit bygewoon,” het sy gesê.

Verwysend na “Sondevloed” het Kotzee gesê dat sy glo enigeen sal aanklank by haar gedigte kan vind.

“Elkeen delf maar uit sy of haar eie agtergrond en het dan hul eie interpretasie van ’n gedig,” vertel sy. “Ek dink almal kan daarmee assosieer omdat elkeen van ons uitdagings het en ons dan moet besluit of ons self gaan opstaan teen daardie Goliat. As jy nie jou situasie hanteer nie, bly jy terugkyk en verander in ’n soutpilaar met geen waarde vir jouself of die mense om jou nie. ”

Kotzee is tans besig om aan haar debuutbundel te werk.

Retha Weir.

Retha Weir van Tuinplaas het ’n tweede plek behaal in die kategorie vir nuwelinge in die webwerf-toekennings. Daar is twee van haar kortverhale opgeneem in die Ink Skryf in Afrikaans se bundel Inkspraak 4.

“My verbasing en vreugde was groot om te sien dat daar meer as 100 verhale in die bundel is wat uiteenlopend is en iets vir almal bied om te lees. Daar is meer as 800 gedigte in die digbundel. Dit is beskikbaar by die Ietsie van Als-padstal en sal ’n oulike Kersgeskenk maak,” het Weir gesê.

“Tydens die gala-aand was daar mense aan ons tafel van regoor die land. Ek dink nie eens Anzé self kon droom dat die organisasie so groot en verrykend sou word nie, maar daar is nou ook Afrikaanse skrywers van regoor die wêreld wat reeds deel is van Ink Skryf in Afrikaans. As ek kyk na die borge en groot name wat aan Ink Skryf in Afrikaans gekoppel is, het ons sowaar iemand om op trots te wees. Welgedaan, Anzé, jy is ’n inspirasie!”

Fanus Strydom.

Fanus Strydom, ’n skrywer van Modimolle wat onlangs sy eerste kortverhaalbundel bekend gestel het, het ook ’n tweede plek in die brons-kategorie in die webwerf-toekennings verwerf met sy gedig “Blouoog brak”.

Related Articles

Back to top button