Local news

Nuwe steen gedenk ou veldslag

Vir ’n oomblik het tyd stilgestaan en die reuk van buskruit, die klank van benoude gille en die geklop van perdehoewe is meer as 120 jaar later weer deur die Baviaanskloof beleef.

’n Gedenksteen is op Donderdag 23 November onthul op die plek waar die Slag van Baviaanskloof op 29 September 1901 plaasgevind het om ’n stukkie van die Waterberg se geskiedenis te verewig. Tydens dié slag in die Sterkrivier-omgewing tussen Mookgophong en Mokopane is 33 Engelse soldate dood nadat hulle deur Boeremagte in ’n lokval gelei is.

ADVERTENSIE

Die broers Mauritz en Jas Hansen, geskiedeniskenners van die omgewing, het die besoekers aan die terrein in fyn besonderheid vertel hoe die slag afgespeel het. Die gedenksteen is deur Fritz Peens en Manie le Roux van Mariba Graniet geborg.

’n Skematiese voorstelling van die terrein waar die slag van Baviaankloof plaasgevind het.

Genl. Christiaan Beyers, wat die bevelvoerder van die Boeremagte in Noord-Transvaal tydens die Anglo-Boereoorlog was, was saam met ’n verkenningsgroep op pad na die Waterval-handelspos. Dit was bloot ’n rondawel wat proviand aan jagters en handelaars voorsien het. Die riviertjie Kootjie-Zyn-Loop vloei tussen die handelspos en die Baviaanskloof.

Beyers het ’n Engelse patrollie wat pas uit die rondawel gekom het, gewaar. Dié groepie soldate was op pad van Moorddrif na Rooiwal, ’n plaas aan die bopunt van die Baviaanskloof, om verkenningswerk te gaan doen. Daar was egter een probleem: ’n klein Boerelaer met 11 ouer mense wat na maer perde omgesien het, was op hul roete — onbewus van die soldate wat op pad is.

Een van Beyers se manskappe was die Kaapse verkenner Dan van Eyck, wat foutlose Engels kon praat. Hy het ook ’n Engelse uniform en perdesaal by hom gehad. Van Eyck het doodluiters by die Engelse patrollie se agterryers aangesluit en rustig saam met hulle beweeg deur die nou draai in die kloof. Soos wat die terrein breër geword het, het hy agter geraak en links deur die lang gras tot in die rivierbedding beweeg, buite die gesigsveld van die patrollie, het die groep besoekers gehoor.

Daarna het Van Eyck sy pas versnel sodat hy verby die Engelse soldate kon beweeg. Hy het dit reggekry om die Rooiwallers betyds te waarsku en die 11 burgers het in die saal gespring en in die kloof af gejaag om die Engelse voor te keer. Heel onkant gevang, het die soldate omgedraai om uit die kloof te vlug, maar hulle vasgeloop teen Beyers se manskappe wat die kloof versper het. Hulle is vasgekeer. Die 33 Engelse soldate is van albei kante af bestook en daar was geen oorlewendes nie.

Meer as 100 jaar later het die grafte van die soldate, wat met ruwe klippe uitgepak was, steeds behoue gebly. Daar was geen name of inskripsies nie.

Die ou pad wat vanaf Waterval na Baviaanskloof geloop het bestaan nie meer nie. ’n Deel van die rant is in 1967 weggeskiet om die S-draai in ’n wye draai te verander.

Related Articles

Back to top button