Local news

Sensus vertel meer oor Limpopo

Die bevolking van Suid-Afrika is in 2022 getel en die uitslag van dié nasionale sensus is onlangs bekend gemaak.

Daar is net meer as 62 miljoen mense in Suid-Afrika waarvan 48,5% manlik en 51,5% vroulik is.

Limpopo is die provinsie met die vyfde meeste mense met sy 6,5 miljoen inwoners. Gauteng, KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap het meer mense as Limpopo.

Na raming is 96,5% van Limpopo se inwoners swart Afrikane terwyl, 2,5% wit is. Die tale in Limpopo wat die meeste gepraat word, is Sepedi (55,5%), Tshivenda (17,4%) en Xitsonga (17,3%).

Van die provinsie se vyf distrikte is Vhembe die digsbevolkste met 1,6 m inwoners, gevolg deur Capricorn met 1,4 m. Die Waterberg-distrik is die ylbevolkste met slegs 762 000 inwoners.

Volgens die sensus woon 94,7% van Limpopo se inwoners in formele huishoudings (teenoor 73,4% nasionaal) en het 31,4% (59,7% nasionaal) toegang tot lopende water in die huis. In die ouderdomsgroep van 5 tot 24 jaar het 80,6% van die mense onderrig by ’n opvoedkundige instelling ontvang — dit is teenoor die 73,4% nasionale gemiddeld.

Hoewel daar op baie gebiede goeie vordering gemaak is, het 20,5% van die huishoudings in Limpopo geen toegang tot aangelegde watertoevoer nie. Daar is 57,9% huishoudings in die provinsie wat moet staatmaak op puttoilette.

Die grootste ouderdomsgroep is van 15-64 jaar (61,4%) gevolg deur die ouderdomsgroep 0-14 jaar (31,6%). Daar is 14,1% van die provinsie se bevolking wat ouer as 20 jaar is wat glad nie skoolopleiding ontvang het nie, met 9,9% wat hoër onderrig ontvang het.

Wat dienste betref het 35,2% van die inwoners spoeltoilette wat aan die rioolnetwerk gekoppel is, 32% het weeklikse vullisverwydering en 95,5% het elektrisiteit vir beligting.

Volgens die sensus het Suid-Afrika 10,3 miljoen meer mense as 11 jaar gelede. Dit is die vierde sensus wat in die demokratiese Suid-Afrika gehou is. Die eerste sensus is in 1911 gehou.

Related Articles

Back to top button