Local news

Jong man van Modimolle nog in hospitaal ná ernstige motorfietsongeluk

Kevin Bredenkamp sterk steeds in die Milpark-hospitaal in Johannesburg aan nadat hy verlede week ernstig beseer is in ’n motorfietsongeluk in Modimolle.

Bredenkamp (23) se motorfiets was op Vrydagoggend 10 November kort voor 09:00 in ’n botsing met ’n bakkie toe hy op die R33-pad in die rigting van Vaalwater gery het. Die ongeluk het voor die departement van korrektiewe dienste se gebou gebeur.

Bredenkamp is per helikopter vanaf die FH Odendaal-hospitaal na die Milpark-hospitaal vervoer nadat hy gestabiliseer is.

Volgens sy pa, Christo Bredenkamp, is daar verbetering, maar hulle is steeds bekommerd. Bredenkamp sou op Dinsdag 21 November weer geopereer word aan sy gebreekte kakebeen. Hy het sy pinkie verloor en het gebreekte ribbebene.

“Die personeel wil hom uit sy geïnduseerde slaap begin haal, maar Kevin kry swaar. Die longmasjien se pype in sy keel maak hom angstig,” het sy pa gesê. “Sy longe is nog swak en hy is steeds onder sterk verdowing. Ons glo dat hy volkome sal herstel, maar dit is ’n lang proses.”

Hy het gesê die gesin waardeer almal se gebede en omgee. “Hou asseblief aan bid.”

Kevin en Christo behartig saam sonkrag-installasies by hul onderneming Solar Connection.


Lees ook: Jong man ernstig beseer ná ongeluk

Related Articles

Back to top button