Local newsMunicipal

Bela-Bela se waterkrisis duur voort

"Ons menseregte kos ons geld. Ons subsidieer ander met gratis water."

Die ou volksliedjie Kinders moenie in die water mors nie, die oumense wil dit drink, het nou nuwe betekenis gekry.

Die waterkrisis in Bela-Bela kring al hoe verder uit en inwoners moet deesdae vir dae aaneen sonder water in hul krane klaarkom terwyl die kragonderbrekings ook steeds nimmereindigende probleme veroorsaak.

Ontstoke inwoners gee daagliks hul misnoeë op sosiale media te kenne met die munisipaliteit se onvermoë om water aan hulle te verskaf.

Die hoë temperature en erge hitte wat die kwik sedert verlede naweek laat styg het, het die humeure van die inwoners verder laat opvlam oor die stand van die droë krane.

Die damme wat die dorp van water voorsien is vol, maar die infrastruktuur werk nie na behore nie en inwoners word genoodsaak om nou hul leefstyl aan te pas rondom die beskikbaarheid van water, sê Jeedee Cloete, Vryheidsfront Plus-raadslid van Wyk 1.

Wanneer daar wel water in die krane is, is die druk swak, want die watervlak in die reservoirs is só laag dat die druk in pype hopeloos te min is om die water tot by hoërliggende strate en geboue te kry.

Vandeesweek het die inwoners van Melgro Court in Ludorfstraat met emmers en bottels by die buitekraan langs die watermeters gestaan om dit te vul. Een van die inwoners sê aan Die Pos dit is nie lekker om te weet dat die mense langs die Pienaarsrivier, waarheen ons dorp se water eerste vloei, water het, maar nie rekeninge van die munisipaliteit ontvang nie. Vandaar kom die water in Uitbreiding 8 en die township uit waar daar ook talle inwoners is wat nie hul rekeninge betaal nie. Die oorblywende bie-tjie water is te min vir die dorp se inwoners.

“Ons menseregte kos ons geld en ons subsidieer ander se gratis water. Ek wonder waar is die watertenkers? Hulle ry water aan na mense wat nie rekeninge ontvang nie.”

Die inwoners wil ook op sosiale mediaplatforms weet waarom die burgemeester, Gloria Seleka, en die munisipale bestuurder, George Ramagaga, tjoepstil bly en nie met die inwoners kommunikeer oor die krisis nie.

Cloete vertel die waterprobleme sal waarskynlik nog tot einde volgende week voortduur.

“Die splinternuwe kragopwekker by die dam werk sedert Sondag 5 November glad nie. Ramagaga, het eers verlede Woensdag 15 November daarvan te hore gekom. Dit is nou die tweede keer dat dié kragopwekker buite werking is. Ons het egter ’n kragopwekker wat gereed staan indien so iets gebeur, maar toe kom die tegnici agter hulle het nie die regte toebehore om die opwekker te koppel met die krag nie. Ramagaga het egter opdrag gegee dat die probleme uitgesorteer moet word, want hy soek die opwekker so gou moontlik by die dam. Dit is ’n tydelike verligting, maar sal nie die werklike probleme oplos nie.”

Cloete sê die filters wat nie werk nie, is die doring in die vlees.

“Die kontrakteur was verlede Vrydag 17 November by die aanleg. Die 15 ton sand vir die drie filters wat tans buite werking is, is reeds bestel en die aflewering behoort aan die einde van hierdie week te gebeur. Ek sal seker dan maar voltyds by die aanleg gaan werk om te verseker dat die werk reg gedoen word. Indien die werk goed verloop, sal ons vyf filters hê wat in werking is. “

Hy sê sodra die nuwe pomp wat bestel is teen einde volgende week opdaag, behoort die waterprobleme wat tans ondervind word, vir eers iets van die verlede te wees.

Die Pos het Peter Moloto, munisipale woordvoerder, die afgelope drie weke herhaaldelik genader vir kommentaar oor die voortslepende krisis. Hy het laat weet hy werk aan ’n artikel. Teen druktyd is niks ontvang nie.

Related Articles

Back to top button