Local news

Bekende vrou in hotelbedryf sterf

Anndeline Jansen van Vuuren, een van die stigters van die Shangri La Country Hotel en Spa, is op 89-jarige ouderdom oorlede.

Jansen van Vuuren en haar man, Flip, het die plaas Shangri La in 1989 gekoop nadat hul seun, Johan, vir hulle gesê het hy glo dat die hotel potensiaal het. Hulle het hul deure in 1990 geopen en die hotel, met sy ouwêreldse sjarme en pragtige tuine, oor die jare opgebou tot ’n gewilde bestemming vir troues en ander geleenthede.

Johan was ten tyde van sy dood op 58-jarige ouderdom die eienaar van Shangri-La en het verskeie ander hotelle regoor die land gevestig. Flip is ook reeds oorlede.

“My ma was baie lief vir tuinmaak,” vertel haar dogter, Bets Botha. Sy het met behulp van die werkers die mooi tuine om die hotel gevestig. “As my ma iets gekoop het wat ’n bietjie duur is, het sy altyd gesê: A thing of beauty is a joy forever,” het Botha vertel. Sy was ook ’n goeie beplanner. “Sy het deeglik boekgehou van alles in haar dagboek — van haar geldsake, water-inname tot hoeveel dit gereën het en al haar voorraad soos hoeveel beskuit sy oor het.”

Sy het tot met haar dood in haar eie woonstel by haar dogter, Priscilla, in Modimolle gewoon.

Anndeline is op Woensdag 8 November ná ’n kort siekbed aan orgaanversaking oorlede. Haar troosdiens is op Vrydag 17 November by die Gereformeerde Kerk in Modimolle gehou.

Sy laat haar seun, Danie, dogters Bets Botha en Priscilla Viviers en talle klein- en agterkleinkinders agter.

Related Articles

Back to top button